Die VF Plus het gister teen ʼn verhoging vir raadslede in die Tshwane-metroraad gestem ten spyte van die feit dat raadslede van Tshwane die afgelope sewe jaar geen verhoging ontvang het nie.
Die party is nie gekant teen ʼn verhoging vir raadslede nie, maar met die huidige finansiële krisis waarin die metro verkeer, is dit nie bekostigbaar nie.
Een van die redes vir die geldkrisis is die agterstallige skuld aan Eskom en die ooreenkoms wat tussen die metro en Eskom bereik is ingevolge ʼn hofbevel.
Indien die metro nie die voorwaardes van dié hofbevel nakom nie, kan Eskom beslag lê om die metro se bankrekening soos wat met die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit gebeur het.
Dit het daartoe gelei dat Emfuleni nie salarisse of krediteure kon betaal nie.
Die VF Plus kan hom nie moreel of eties vereenselwig met enige onnodige uitgawe wat die metro in so posisie kan laat beland nie.
Dit stuur ook ʼn verkeerde boodskap aan inwoners aangesien daar reeds ʼn tekort is vir besteding aan dienslewering.
Die VF Plus het verder sy misnoё uitgespreek oor die inkontraktering van skoonmakers wat die belastingbetalers ʼn verdere R7,8 miljoen per jaar uit die sak gaan jaag.
Die huidige regering van Tshwane onder leiding van ActionSA se burgemeester, Nasipi Moya, het die stap ten alle koste deurgevoer.
Die VF Plus sal voortgaan om die regerende party in die metro verantwoordbaar te hou om finansiële stabiliteit te bewerkstellig en die vermorsing van belastinggeld teen te staan.


