‘n VF Plus-afvaardiging, onder leiding van Kobus van den Berg (LP in NRP), asook Theo Joubert (LPW) en Dawie Griesel, raadslid in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, het twee rioolaanlegte in Kimberley besoek ná talle voëlvrektes in die Kamfersdam.
Besoekers aan Kimberley se eerste indruk is dikwels die flaminke op die dam, net noord van die stad. Hierdie watermassa, in werklikheid ’n pan, huisves ook ’n groot aantal ander voëlspesies.
Onlangse voëlvrektes, wat wye nuusdekking geniet het, het ampsdraers van die VF Plus in die Noord-Kaap genoop om self ondersoek in te stel.
Die oorsaak van die vrektes is botulisme, ook bekend as lamsiekte. Dit is ’n siekte wat soogdiere ook raak. Die mikroörganisme wat daarvoor verantwoordelik is, floreer in water met ’n suurstoftekort – ’n toestand wat tipies op ’n oormaat onbehandelde riool volg.
Kimberley, deel van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat ook Ritchie en Modderrivier insluit, het twee rioolaanlegte; by Greenpoint en Homevale. Die Homevale-aanleg se water is veronderstel om, nadat dit voldoende behandel is, in die Kamfersdam in te loop.
By Greenpoint bereik feitlik geen rioolwater die suiweringswerke nie. Masjinerie loop onnodig en personeel hou hulself andersins op die terrein besig.
By Homevale is nie eens sowat tien present van die aanleg in werking nie en die personeel is hoofsaaklik in die teekamer.
Dit blyk in beide gevalle dat geen onderhoud plaasvind nie. Werkers verklaar dat tenders vir herstelwerk uitgesit is, maar intussen gebeur daar niks nie.
Hoewel die rioolstorting by Homevale die media haal weens die ikoniese aard van Kamfersdam en die groter omvang van die aanleg, laat albei aanlegte onbehandelde riool in die ekologie vry, na aan woonbuurte.
Herstelwerk en deurlopende onderhoud is die oplossing, maar in hierdie stadium moet almal betrokke saamwerk om die krisis af te weer en die besoedeling stop te sit.
Sol Plaatje behoort dringend kommersiële produkte wat suurstofvlakke in die water verhoog, te ondersoek.
Die VF Plus se verteenwoordigers in al drie sfere van regering sal betrokke bly totdat die probleem opgelos is.