Die VF Plus het met die opening van skole deelgeneem aan ’n projek waar elke wetgewerlid ’n oorsigbesoek aan twee skole moes bring. Hierdie besoek het duidelik omlyn wat suksesvol en wat onsuksesvol is in die provinsie se onderwysstelsel. Die identiteit van die skole word verswyg.
Die eerste skool het in alle opsigte beïndruk. Dit moet wel meer leerders akkommodeer as waarvoor daar klaskamers is en boonop is daar nie genoeg skoolbanke vir almal nie.
Die skoolhoof het aangedui dat daar eintlik behoefte aan nog ’n skool in die omgewing is en wat met so ’n besoek sigbaar is, moet ’n mens saamstem. Nogtans is daar ’n plan vir elke uitdaging en die skool funksioneer goed.
Die tweede skool is slegs sowat 6 km van die eerste, in ’n verarmde gebied. Dit hoef nogtans nie ’n rede vir swak prestasie te wees nie, aangesien twee van die Noord-Kaapse drie topskole in verarmde gemeenskappe is.
Hierdie besoek was ’n totale teleurstelling, aangesien die skoolhoof afwesig was sonder ’n goeie rede. Die rede wat aangevoer is, is dat hy in sy rol as vakbondverteenwoordiger oorsigbesoek aan ander skole moes bring.
In sy eie skool het daar egter wanorde geheers en skoolwerk kon beslis nie afskop nie.
Intussen weerspieël die prestasies van Noord-Kaapse matrikulante op 14 Januarie die Noord-Kaapse verskeidenheid.
Die slaagsyfer wat van 66% in 2020 tot 84,2% in 2024 gestyg het, is juis omdat skole soos Veritas Hoërskool in De Aar, Friersdale Gekombineerde Skool tussen Keimoes en Kakamas en die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas die top 3 skole van die provinsie is.
Al drie is plattelandse skole, terwyl daar ’n betreklik algemene opvatting is dat stedelike skole makliker goed presteer.
Die provinsie het een leerder met nege onderskeidings, vier met agt en sewe het sewe opgelewer. Die VF Plus wens hulle en elke ander leerder wat sy of haar bes gedoen het, van harte geluk.
Indien elke skool in die provinsie funksioneer soos die eerste een wat die VF Plus besoek het en geeneen soos die tweede nie, kan uitslae in die provinsie nog veel beter lyk.