Dit is onaanvaarbaar en nie in die belang van die publiek dat die polisie se nasionale inspektoraat bloot ontbind word nie en die VF Plus sal aandring op die spesifieke redes vir die besluit.
Luidens mediaberigte vandeesweek het die polisie se nasionale kommissaris, genl. Fannie Masemola, asook die polisieminister, Senzo Mchunu, besluit om die inspektoraat te ontbind. Geen redes is vir die besluit verskaf nie.
Die doel van die inspektoraat is grootliks om openbare vertroue en verantwoordbaarheid in die polisie te verseker. Die inspektoraat speel ook ‘n groot rol om interne ongerymdhede te ondersoek en optrede voor te stel.
Dit is van groot belang in Suid-Afrika aangesien daar onder meer weens ‘n hoë misdaadvoorkoms ‘n wesenlike vertrouensbreuk tussen die publiek en die polisie bestaan.
Die redes vir die ontbinding sal bepaal of die besluit wenslik is of nie. Indien dit wel voortgaan, sal die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) se hand met mannekrag, finansies en ander hulpmiddele versterk moet word om die rol van die inspektoraat oor te neem.
Onder die huidige omstandighede kan Opod nie eens sy eie werk na behore doen nie weens ‘n gebrek aan hulpmiddele. Die inspektoraat se ontbinding sal soveel meer druk op Opod plaas.
Dit is duidelik dat die besluit nie in belang van misdaadbestryding en die publiek is nie en die polisie se topbestuur sal vinnig klarigheid moet gee oor die aangeleentheid.


