Die VF Plus het tydens ʼn raadsitting van die Johannesburgse metroraad die mosie van wantroue in die ANC-burgemeester, Dada Morero, gesteun.
Een van die redes hoekom die VF Plus die wantrouemosie gesteun het, is omdat die burgemeester en die burgemeesterskomiteelid van finansies, Margaret Arnolds, nie die party se voorstelle in ag geneem het met die metro se begroting vir die 2025/26-finansiële jaar.
Die party het twee weke voor die goedkeuring van die 2025/26-finansiële begroting ʼn alternatiewe begroting aan die burgemeester en die burgemeesterskomitee vir finansies voorgelê om die finansiële las van die verbruiker te verlig.
In die voorstel is aangedui dat die stad sy uitstaande skuld van R64 miljard moet begin invorder wat kon teweegbring dat die stad se tariefverhogings ver onder die inflasiekoers sou wees.
Die voorstel het verder aangedui dat geen verhogings op grondbelasting in die finansiële jaar nodig sou wees nie. Die VF Plus beskou grondbelasting in elke geval as ‘Robin Hood’-belasting.
ʼn Ander rede is die vervalle infrastruktuur waaraan die ANC weinig doen.
Die VF Plus is van mening dat, met die oog op die komende munisipale verkiesing waar geen politieke party meer as 50% van die stem gaan inwin nie, dit belangrik is om nou die tafel te dek vir ʼn moontlike veelparty koalisie om die ANC, MK en moontlike EFF-koalisie uit te sluit.
Die party is verder van mening dat die DA ʼn groot fout begaan het om die ANC-mosie van wantroue teen die ActionSA-speaker, Nobuhle Mthembu, te steun. Die VF Plus glo dat sy haar redelik goed van haar taak gekwyt het en die redes vir haar verwydering nie baie water dra nie.
Dit het teweeg gebring dat 212 stemme, wat die DA/ANC-blok verteenwoordig, die ActionSA-speaker verwyder het. Net 48-lede het teen die mosie gestem.
Dit was ook die hoogste getal ondersteuning vir so ʼn tipe mosie wat die VF Plus nog uit die metroraad van Johannesburg waargeneem het.
Dit is ongelukkig nie die manier om moontlike koalisievennote te behandel veral met die oog op ‘n toekomstige veelparty-koalisie om die ANC en kie uit die stoel te lig nie.