Die Mangaung-metroraad het vandag ‘n voorstel goedgekeur om gewone landbougrond teen ‘n astronomiese R186 000 per hektaar aan te koop teen ‘n totaal van R33,6 miljoen vir ‘n stuk grond langs die Dewetsdorp-pad. Dit is sowat vyftien keer meer as die markwaarde.
Die VF Plus was die enigste party wat daarteen gestem het. Nie oor die beginsel van grondverkryging nie, maar oor die buitensporige prys en die feit dat dié transaksie slegs een privaat verkoper, in ‘n truststruktuur, verryk.
Vergelykbare landbougrond in dieselfde omgewing verkoop vir gemiddeld R10 000 per ha en tot R15 000 indien dit ryk landbougrond is. Hierdie prys is onrealisties en uiters voordelig vir die verkoper.
Mangaung staar ‘n ernstige behuisingskrisis in die gesig. Indien dié ANC-geleide raad werklik oplossings soek, moet hy eerder belastinggeld verstandig aanwend om soveel moontlik mense te help en nie net ‘n enkele verkoper se sak te vul nie.
Die VF Plus glo in volhoubare ontwikkeling, maar nie in verkwisting onder die dekmantel van ontwikkeling nie.
Die party is teen enige besluit wat private gewin bo openbare belang plaas. Hierdie transaksie help nie Mangaung se mense nie, dit beroof hulle.
Die VF Plus staan vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en die verantwoordelike gebruik van elke sent belastinggeld.