Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gestremde VF Plus-raadslid beseer ná hy van trappe val weens stukkende hysbak

‘n Gestremde VF Plus-raadslid het Donderdag sy rug beseer toe hy, sy helper en ‘n werker van die Rand-West-plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) van ‘n stel trappe by die munisipale kantore in Randfontein afgetuimel het.

Charles Brough, wat in ‘n rolstoel is, moet elke keer wanneer die hysbak buite werking is, deur mense op- en af gedra word na die raadsaal wat op die eerste verdieping geleë is.

Brough is Donderdag voor ʼn raadsvergadering opgedra, maar met die afkomslag het een van die helpers se voet gegly en hy het sy balans verloor. Al drie het beserings opgedoen. Brough het sy rug beseer.

In Januarie was die hysbak vir drie maande buite werking en die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabolo, genader om dadelik in te gryp.

Die hysbak is in Maart herstel, maar was na ʼn maand weer stukkend.

Dit is nie net die tweede keer dat die hysbak buite werking is nie. Twee jaar gelede was die dit vir meer as vyf maande buite werking en het die party ook die LUR gevra om in te tree.

Die party neem kennis van die feit dat onderdele dalk moeilik bekombaar is, maar dit kan nie veroorsaak dat ʼn hysbak vir maande buite werking is nie. Daar is ander mense met gesondheidsprobleme wat ook ondersteuning nodig het om die trappe na die eerste vloer te klim.

Die situasie kan nie voortduur nie. Die Rand-West-munisipaliteit moet sorg dat raadslede met gestremdhede die raadsaal veilig kan bereik.

Die VF Plus het reeds die LUR genader om weer dringend aandag aan die situasie te skenk.

Daar word van raadslede verwag om vergaderings by te woon, maar daar word nie voorsiening gemaak vir raadslede of die gemeenskap in rolstoele om in ʼn veilige omgewing te beweeg nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.