Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onverantwoordelike inkontraktering ten bedrae van R230 miljoen bedreig begroting

Die VF Plus het tydens ʼn raadsvergadering van die Tshwane-metroraad ʼn verslag verwerp waarin R230 miljoen oor drie jaar bewillig word om meer as ʼn duisend gekontrakteerde sekuriteitswagte van byvoordele te voorsien.

Die 1283 wagte is in 2021 sonder byvoordele aangestel.

Die VF Plus het in die raad voorgestel dat ʼn volledige ondersoek gedoen word om vas te stel of die wagte aan vereistes voldoen en in watter mate tegnologie ingespan kan word om sekere take te verrig.

Verskeie versteekte kostes vir basiese toerusting en opleiding is in die bedrag uitgesluit wat op ernstige finansiële onverantwoordelikheid dui.

Die VF Plus betwyfel dit of die metro se begroting die addisionele koste rondom sekuriteitswagte kan absorbeer.

Hierdie verslag vorm deel van die ActionSA/ANC/EFF-koalisie se pogings om hul beleid van algemene inkontraktering van sekuriteitswagte en skoonmakers deur te dwing.

Die VF Plus se standpunt is dat daar eerder ʼn geteikende, strategiese benadering moet wees wat waarde toevoeg vir inwoners deur middel van kostedoeltreffende en kwaliteit dienslewering wanneer inkontraktering gedoen word.

Verantwoordelike besluitneming oor munisipale fondse is nie bloot ‘n wetlike vereiste nie, maar ‘n saak van uiterste belang. Sonder ʼn deeglike evaluering van die volle impak, kan geen sinvolle besluit geneem word nie en dit sal waarskynlik lei tot vrugtelose en vermorste besteding.

Verskeie kritieke elemente is heeltemal uit die verslag weggelaat:

• ʼn Deeglike sekuriteitsrisiko-analise om te bepaal waar tegnologie en waar menslike hulpbronne benodig word;
• ʼn Vaardigheidsondersoek wat noodsaaklik is om te verseker dat personeel voldoen aan munisipale standaarde en die vereistes van die Privaat Sekuriteitsindustrie Reguleringsowerheid (Psira). Daar is geen duidelikheid of die 1 283 wagte wat reeds in 2021 in die vorige termyn van die metroraad ingekontrakteer is wel by Psira geregistreer is nie. Dit is ook nie duidelik of hulle aan die toepaslike kwalifikasie- en bevoegdheidsvereistes voldoen nie;
• ʼn Gedetailleerde begroting wat alle direkte en indirekte kostes insluit.

Hierdie elemente is noodsaaklik voordat enige besluit geneem word wat nie net die munisipale begroting bedreig nie, maar ook die veiligheid van wagte en die beskerming van die stad se bates in gedrang bring.

Die VF Plus bly verbind tot verantwoordelike en deursigtige besluitneming tot voordeel van die gemeenskappe van die Tshwane-metro.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.