Die VF Plus verwelkom enige stappe om korrupsie en wanbestuur in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) uit die weg te ruim, maar dit is jammer dat drastiese ingryping eers versoek word nadat die gemeenskap daarop moes aandring.
Die jongste openbaring deur ‘n fluitjieblaser kom ná ‘n bekgeveg tussen die gemeenskap van Roshnee aan die een kant en die plaaslike owerheid aan die ander kant.
Dié inwoners is op kort kennisgewing ingelig dat die elektrisiteitstoevoer onderbreek gaan word ten spyte van rekeningfoute wat ná vele klagtes nie opgelos is nie.
Die VF Plus vind dit laakbaar dat die burgemeester, Sipho Radebe, nou eers optree, ten spyte van vele klagtes van die inwoners waarop nie hy of die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Hassan Mako, ag geslaan het nie.
Deurlopende beskuldigings van korrupsie, afpersing en bedrieglike rekeninge is ’n direkte gevolg van jare se gebrek aan politieke wil en daadwerklike optrede teen oortreders binne die Emfuleni-administrasie.
Die feit dat nasionale en provinsiale leiers nou eers “kommer, vrees en woede” uitspreek, nadat die burgemeester vir president Cyril Ramaphosa gevra het om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) opdrag te gee om bewerings van korrupsie te ondersoek, is onaanvaarbaar.
Dié optrede bevestig wat inwoners lank reeds ervaar: Emfuleni se stelsel is vervalle en eerlike belastingbetalers word misbruik.
Die VF Plus dring daarop aan dat die SOE se ondersoek nie net simbolies moet wees nie, maar moet lei tot werklike vervolging van skuldiges, die herwinning van verlore fondse en ’n volledige herstel van administratiewe en finansiële verantwoordbaarheid.
Die party staan aan die kant van die gemeenskap en sal voortgaan om druk uit te oefen dat elke sent van die belastingbetaler beskerm word en dat goeie bestuur herstel word.


