Die VF Plus waarsku dat die Mafube-plaaslike munisipaliteit se munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) steeds nie funksioneer nie, selfs al verkeer die munisipaliteit wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling bedien, al vir ‘n geruime tyd onder provinsiale ingryping.
Hierdie voortdurende versuim dui nie net op finansiële wanbestuur nie, maar ook op ’n moontlike poging om misbruik en onreëlmatighede te versteek.
Die VF Plus het die Vrystaatse departemente van finansies en samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gewaarsku dat MPAC stelselmatig lamgelê word.
Vergaderings word uitgestel of gekanselleer sonder rede, amptenare versuim om op te daag, kritieke dokumente word nie voorsien nie en senior bestuur werk nie saam nie.
Die Vrystaatse provinsiale tesourie het in Oktober 2025 in ‘n skrywe aan die munisipaliteit formeel gewaarsku dat die munisipaliteit nie aan artikel 74 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) voldoen nie.
Dit volg nadat Mafube versuim het om die vereiste MPAC-verslae, met ingeslote raadsbesluite oor ongemagtigde, onreëlmatige. vrugtelose en vermorste uitgawes (UIFW), asook verslae van die dissiplinêre raad aan provinsiale tesourie voor te lê.
Nou wil dit voorkom of die ANC ná die tesourie se waarskuwing in November probeer vergader het, maar weereens ontbreek dokumente, reëlings is nie reg getref nie, amptenare daag nie op nie en daar is geen kworum nie.
Dit lyk nie meer net na onbevoegdheid nie, maar na doelbewuste sabotering. Die ANC weier om toe te sien dat ‘n kernkomitee wat oorsig moet doen oor die besteding van openbare fondse, behoorlik funksioneer.
Die VF Plus het weer in ‘n skrywe aan die munisipaliteit, die LUR vir Cogta, Teboho Mokoena en die provinsiale tesourie, dringende ingryping versoek.


