Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis antwoorde oor Ekurhuleni se R10,4 miljard krediteure-chaos en beweerde vervalsing van faktuurdatums

Die VF Plus is bekommerd oor die toenemende finansiële wanbestuur in die Ekurhuleni-metro veral met betrekking tot die R10,4 miljard wat aan krediteure verskuldig is, die chaotiese betalingstelsel en skokkende bewerings dat amptenare diensverskaffers glo gevra het om faktuurdatums te verander om agterstande te verbloem.

Luidens die departement van finansies se eerste kwartaalverslag (Julie tot September) is van die fakture wat in 2021 ingehandig is, onbetaal terwyl 2025- fakture reeds vereffen is.

Etlike voorbeelde van groot uitstaande bedrae is aan Eskom R5,36 miljard, Ekurhuleni-watersorg maatskappy (Erwat) R1,01 miljard en miljoene wat aan klein- en medium diensverskaffers verskuldig is.

Tydens die gesamentlike oorsigkomiteevergadering van die finansies- en infrastruktuurkomitee, het verskeie teenwoordige belanghebbende partye aangedui dat amptenare versoek is om die datums op hul ingediende fakture te verander.

Die oorsigkomitee het die bewerings onmiddellik onder die aandag van die departement van finansies gebring en ’n skriftelike verduideliking versoek.

Die departement het tot op hede nie die bewerings bevestig of ontken nie en die komitee wag op ’n volledige, bewysgegronde reaksie.

Wanneer ’n metro selektief sy skuld betaal en dan beweerde instruksies uitreik om fakture glo te manipuleer, is dit nie langer ʼn administratiewe probleem nie, maar word die metro se etiek en integriteit in twyfel getrek.

Die grootste knelpunte in die verslag is:

• Geen deursigtige of billike kriterium van wie eerste betaal word nie.

• Diensverskaffers wat meer as vier jaar wag vir betaling.

• Amptenare in die departement van finansies wat na bewering faktuurdatums wou verander om die omvang van laat betalings weg te steek.

• Klein en opkomende kontrakteurs word die swaarste getref en weier om die kontrak te voltooi as gevolg van nie-betaling.

• ’n Skerp styging in regsgedinge en skikkingsbevele teen die metro word nou verwag wat ʼn finansiële risiko inhou.

Hierdie optrede dui op finansiële wanorde, ’n gebrek aan toesig en ’n totale minagting van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).

Die VF Plus eis dat die metro onmiddellik ’n volledige lys van alle uitstaande faktuurbedrae, datums en die huidige betalingsvolgorde publiseer.

Die party het verder skriftelike vrae gestuur aan die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, om amptenare tot verantwoording te roep.

Inwoners en plaaslike ondernemings verdien ’n metro wat eerlik, deursigtig en verantwoordbaar is en nie een wat fakture wegsteek, datums verander en mense in bankrotskap laat nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.