VF Plus eis antwoorde oor omstrede projekte van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Ritchie) waar miljoene rande sonder rekenskap verdwyn het.
Die party het hieroor in ‘n vergadering van die munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) van die munisipaliteit verlede week (20 November) ’n lys van projekte met miljoene se verspilde uitgawes aan die komitee vir indringende ondersoek oorhandig.
Die VF Plus eis dat MPAC en die administrasie volledige en eerlike verslag aan die gemeenskap doen oor waar die geld beland het en waarom die projekte nie voltooi is of misluk het nie. Enkele voorbeelde is:
• Die Homevale-brandweerstasie (Ou Barklyweg) is nooit afgeteken nie en kan as ‘n vermorste belegging beskou kan word.
• Die Sunset Manor-rioolpompstasie (Roodepan) se bouwerk is meer as ‘n jaar gelede gestaak met slegs ‘n duur kragopwekker wat permanent opgepas word.
• Die Gogga-rioolpompstasie vanwaar ‘n groot deel van Kimberley se riool na die aanleg by Roodepan gepomp moet word, maar wat ná jare se besteding steeds nie werk nie. Die gevolg is rou riool wat in woonbuurte invloei.
• Die sogenaamde “Mandela Precinct” in Galeshewe wat ‘n toonbeeld van plaaslike ontwikkeling moes wees, maar niks meer kan toon as net ‘n reuse staalsilhoeët van die oud-president nie – die sogenaamde “Staal Mandela”.
• Die Homevale-rioolaanleg, Kimberley se grootste, wat steeds nie funksioneer nie. Die storting van rou riool in die Kamfersdam het reeds miljoene rand se infrastruktuur beskadig en onmeetbare ekologiese skade aangerig. Die grootste broeikolonie van flaminke is feitlik vernietig.
• Die Transnet-pompprojek na die Vaalrivier waar Transnet geld bewillig het om die Kamfersdam te help red, maar waar die pomphuis tans gesluit staan.
• Die Greenpoint-rioolaanleg wat reeds vir vier jaar buite werking is.
• Die Carters Ridge-rioolpompstasie wat in 2017 voltooi moes wees, maar steeds onvoltooid is.
Die VF Plus dring daarop aan dat die komitee dringend oorsigbesoeke aan hierdie projekte moet aflê en formele klagte by die toepaslike wetstoepassers indien.
Kimberley se mense verdien ’n munisipaliteit wat bevoeg, eerlik en verantwoordbaar is – nie nog ’n stortvloed van skandale, wanbestuur en verlore miljoene nie.


