Die VF Plus het teen die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit se 2026/27-begroting, asook die mediumtermyn-inkomste-en-uitgaweraamwerk (MTIUR) tot 2029, gestem.
Hierdie begroting is met R10,1 miljard onbefonds, roekeloos en oortree die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).
Die ANC-beheerde raad erken self dat die enorme Eskom-skuld van meer as R12 miljard die tekort dryf. Tog kies die ANC-geleide bestuur om steeds op geld te begroot wat nooit realiseer nie. Die invorderingskoers het die afgelope drie maande op ’n gevaarlike 49% gestaan, ver onder die minimum teiken van 70–75%.
Inwoners word intussen gekonfronteer met die volgende tariefverhogings:
• 21% vir water
• 10% vir elektrisiteit
• 3,4% vir eiendomsbelasting en vullisverwydering
Dit terwyl die munisipaliteit sowat 50% van sy water en 35% van sy elektrisiteit verloor nog voordat dit gefaktureer word – ’n direkte gevolg van gebrekkige infrastruktuur en onwettige aansluitings.
Die munisipaliteit bloei hulpbronne terwyl die infrastruktuur ineenstort.
Die VF Plus het geëis dat die raad sy teenstemme individueel aanteken. Die begroting is egter steeds deurgedruk met 32 teenoor 30 stemme.
Die VF Plus weier om medepligtig te wees aan ’n begroting wat op fiktiewe geld staatmaak en belastingbetalers verder finansieel uitbuit. Die party bly verbind tot ’n verantwoordelike regering wat aan wetlike vereistes voldoen en inwoners se belange eerste stel.
Op 4 November het kiesers die geleentheid om die ANC se krane toe te draai en dit te vervang met die VF Plus – ’n party wat nie op skuld en beloftes bou nie, maar op skoon bestuur, volhoubare finansies en werklike dienslewering.


