Die 2026/27-begroting van die uMhlathuze-plaaslike munisipaliteit (Empangeni, Richardsbaai) is ’n deurslaggewende oomblik om die pad vorentoe vir plaaslike dienslewering nog verder te verbeter.
Vir die VF Plus, as deel van die IVP/DA/ACDP-koalisieregering in dié munisipaliteit, bly die kernfokus opgegradeerde en ononderbroke, gehalte-dienslewering aan elke inwoner.
Die koalisie het reeds ’n goeie reputasie opgebou vir finansiële dissipline en praktiese oplossings wat die ouditeur-generaal (OG) se ouditverslae bevestig. Hierdie verslae het uMhlathuze as een van die munisipaliteite met sterk finansiële bestuur en beter nakoming van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) uitgelig.
Die VF Plus wil voortbou op hierdie reputasie en seker maak dat die momentum nie verlore gaan nie.
Dit is belangrik dat die begroting nie net goed lyk op papier nie, maar werklik bydra tot die herstel en instandhouding van plaaslike infrastruktuur. Dienslewering en infrastruktuur bly die spil waarom die begroting draai.
Die VF Plus se kernprioriteite vir die munisipaliteit is soos volg:
• Volhoubare dienslewering: Betroubare water, elektrisiteit, vullisverwydering en basiese dienste sonder ontwrigting.
• Infrastruktuur: Die prioritisering van begrotingsposte wat direk gemik is op die opgradering en instandhouding van verouderde stelsels.
• Streng toesig: As deel van die koalisie sal die VF Plus die implementering van die begroting fyn dophou om te verseker dat elke sent wat vir dienslewering bewillig is, ook werklik daarvoor aangewend word.
Die begrotingsproses is die bloudruk vir die jaar wat voorlê en die party en die koalisie se rol is nou om seker te maak daardie bloudruk word in harde werk op grondvlak omgeskakel.
Dienslewering is nie ’n politieke speletjie nie; dit gaan oor mense se lewensgehalte.
Die VF Plus sal deurlopend oorsig uitoefen om te verseker dat dienslewering die absolute prioriteit van die munisipaliteit bly.


