Die VF Plus het na deeglike oorweging besluit om in belang van dienslewering aan die inwoners van George, weer in ʼn koalisie met die DA te tree.
Dit is algemeen bekend dat die plaaslike regering in George tans vele uitdagings in die gesig staar wat bestuur en dienslewering aanbetref.
Die VF Plus kon nie apaties hieroor staan nie en het die besluit geneem in belang van die gemeenskap en om te help om die uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar, die hoof te bied.
Nie net word die belange van die VF Plus se steunbasis hierdeur beter beskerm en bevorder nie. maar beter kontinuïteit in die bestaande plaaslike regeringsprosesse sal tot voordeel van almal in die munisipale gebied wees.
Gegewe die demografie van George is dit allerbelangrik dat deursigtige regeringsprosesse en dienslewering aan alle gemeenskappe ten alle tye verseker moet word.
Die VF Plus vertrou dat hy die nodige kennis en ervaring na die tafel bring om ‘n leidende rol hierin te speel.
Koalisieregering op alle vlakke is die toekoms van Suid-Afrika en dit kan slegs suksesvol wees indien bande oor politieke grense verstewig word.
Om dit te bereik is wedersydse vertroue en respek, waar partye met ʼn gedeelde waardestelsel gesamentlik kan regeer in belang van die publiek, baie belangrik.
Die VF Plus is vol vertroue dat sy koalisievennote in George, die DA en die ACDP, dieselfde waardes koester.
Die party sal, soos elders waar hy in koalisie is, alles in sy vermoë doen om seker te maak dat George en sy mense die voordeel van die koalisieregering sal geniet.


