Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni betaal R664 miljoen per jaar vir chemiese toilette

Die Ekurhuleni-metro se besteding aan 46 321 chemiese toilette vir informele nedersettings beloop ʼn astronomiese R664,7 miljoen per jaar (BTW uitgesluit).

Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, het dié bedrag skriftelik aan die finansiële komitee bevestig.

Hierdie is nie net swak bestuur nie, maar ’n sanitasie-skandaal waar die metro belastingbetalers se geld op tydelike toilette vermors terwyl infrastruktuurontwikkeling agterweë bly en inwoners onmenslike omstandighede moet trotseer.

Boonop is daar geen langtermynwaarde wat uit hierdie uitgawe spruit nie.

Terwyl daar steeds daarvoor betaal word, is talle van dié toilette onbruikbaar en word ander nie gereeld skoongemaak nie.

Sommige nedersettings verskyn op drie of vier kontrakte van meer as een van die 15 diensverskaffers, wat op ‘n duplisering van tenders dui.

Terwyl die gemiddelde koste van dié toilette aansienlik hoër as realistiese markpryse is, is daar ook geen plan vir die verskaffing van permanente dienste, infrastruktuurontwikkeling of spoeltoilette nie.

Die omvang van die besteding skep ’n teelaarde vir korrupsie, tenderbeïnvloeding en politieke beskerming.

Hoe verduidelik ’n metro dat R664 miljoen aan tydelike toilette bestee word, maar hy kan nie waterpype of rioolstelsels herstel nie.

Die VF Plus eis ’n onafhanklike forensiese ondersoek na hierdie kontrakte en onmiddellike stappe om permanente infrastruktuurontwikkeling voorop te stel.

Voorts eis die party dat die departement van water en sanitasie in Ekurhuleni ‘n gedetailleerde kaart beskikbaar stel van waar elke toilet geplaas is en watter maatskappy dit diens.

Terwyl die VF Plus ook wil toesien dat daar ‘n moratorium op nuwe kontrakte geplaas word vir die verskaffing van chemiese toilette, sal die party ook vra dat Ekurhuleni ‘n kostevoordeel-ontleding doen oor hoe die R664 miljoen gebruik kan word om permanente toilette en rioolnetwerke te bou.

Ekurhuleni se chemiese toiletstelsel het ’n broeiplek geword vir vermorsing, tender-politiek en infrastruktuurverlamming.

Die VF Plus sal nie stilbly terwyl geld weggegooi word en arm gemeenskappe in onmenslike omstandighede gelaat word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.