Die VF Plus het vandag tydens ‘n vergadering met die munisipale bestuurder van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, me. Lesego Seametso, geëis dat daar onmiddellik strafregtelike stappe geneem word teen die “munisipale rekening-afdreigsindikaat” wat in die munisipaliteit bedrywig is.
Matlosana bedien Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney en Stilfontein.
Seametsa het onderneem om onmiddellik klagte by die polisie in te dien en dat die munisipaliteit sy volle samewerking sal gee om te verseker dat die skuldiges aan die kaak gestel word.
Die vergadering het gevolg nadat die VF Plus verskeie klagtes van sakelui in die Matlosana-omgewing ontvang het dat dié sindikaat hulle afdreig om groot bedrae in ʼn rekening te betaal om te voorkom dat hul krag afgesny word.
Uit die inligting wat die VF Plus ontvang het, blyk dit dat die skema in samewerking met munisipale amptenare met toegang tot die munisipale rekeningstelsel gedoen word.
Die bedrae wat geëis word, stem onder meer presies ooreen met die sake-eienaars se uitstaande munisipale skuld. Sindikaatlede weet ook presies aan watter krag-aansluitingspunte die geteikende ondernemings gekoppel is.
Sake-eienaars word ook in stemboodskappe met fisieke geweld of skade aan hul eiendom gedreig indien hulle weier om die inbetalings na ‘n rekening in die naam van ” Deps Creditors Control Revenue” te doen.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle inwoners in Matlosana om waaksaam te wees en te verseker dat hulle hul munisipale rekeninge slegs by die munisipaliteit vereffen op die amptelike metodes.
Die VF Plus sal aanhou stry teen korrupsie en magsmisbruik in die munisipale administrasie. Die party sal ook die vordering met die ondersoek monitor om te verseker dat reg geskied.


