Malusi Gigaba en Brian Molefe moet onmiddellik hul bedankings as LP’s by die speaker van die parlement indien.
Hulle het gister in die saak oor beweerde korrupte tenders rakende die aankoop van lokomotiewe rondom 2014 by Transnet, in die Palm Ridge landdroshof verskyn.
Beide word saam met drie voormalige hoofde van Transnet aangekla van bedrog, korrupsie, die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur asook die oortreding van die Maatskappywet.
Gigaba is ‘n ANC-LP en medevoorsitter van die gesamentlike staande komitee oor verdediging, asook lid van die portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging.
Molefe, ‘n MKP-LP, dien as lid van die portefeuljekomitee vir elektrisiteit en energie, die staande komitee vir finansies asook die gesamentlike staande komitee vir die finansiële bestuur van die parlement.
Die VF Plus sal ook wil sien dat hul onderskeie partye erns toon teenoor korrupsie en bedrog en streng stappe teen hulle neem.
Die VF Plus se standpunt is dat geen genade betoon moet word aan korrupte persone wat staatsentiteite en in effek die belastingbetaler, besteel en beroof nie. Die persone wat hiervoor verantwoordelik is, moet die gevolge van hul dade begin dra.
Die VF Plus verwag dat die ANC se interne opsystaanreël dadelik in werking gestel moet word. Indien daar ‘n skuldigbevinding is, moet daar benewens tronkstraf ook die nodige etiek-prosesse van die parlement gevolg word.
Wat Molefe aanbetref, moet die MK-party nou woord by die daad voeg en wys dat hy ernstig is oor sy sterk retoriek teen korrupsie en hom as LP verwyder.
Lede van die parlement lê aan die begin van hul termyn, tydens beëdiging, voor die hoofregter ‘n eed van getrouheid aan die republiek en die Grondwet af, asook ‘n belofte om hul pligte na die beste van hul vermoë uit te voer. Dié eed is ‘n voorvereiste vir die uitvoering van hul pligte.
Die VF Plus is van mening dat hierdie eed en belofte heeltemal misken en geskend word deur sommige lede se straflose onwettige optrede en dat hulle nie as lede van die Nasionale Vergadering (NV) of die parlement mag dien nie.
Transnet het in die lokomotief-skandaal miljarde rande weens korrupsie verloor. Dit het dié instelling tot só ‘n mate finansieel geruïneer dat staatswaarborge van sowat R51 miljard uitgereik moes word om hom in staat te stel om sy bedrywighede te finansier.
Korrupte staatsamptenare en politici het staatsentiteite in Suid-Afrika leeg gestroop en daar is nie meer plek vir sulke persone in die land nie. Daar moet ferm teen hulle opgetree word en hulle moet die straf kry wat hulle verdien.


