Terwyl die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Nkosindiphile Xhakaza, breë bors die G20-sosiale beraad bywoon, leef die metro se inwoners in verval.
Die metro het R5 miljoen uit eie fondse bestee aan venues soos die Birchwood-hotel en OR Tambo-konferensiesentrum sonder begrotingsgoedkeuring of insluiting in die metro se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).
Dit is slegs ʼn fraksie van die openbare fondse wat aan logistiek, sekuriteit en gasvryheid bestee word.
Intussen leef inwoners van Ekurhuleni in ’n toestand van verval. Elektrisiteit is vir dae af sonder enige verduideliking, water bly weke lank weg en rioollekkasies teister woonbuurte. Paaie verbrokkel, gras groei heuphoogte langs sypaadjies en vullis word nie verwyder nie.
Daar is geen teken van volhoubare infrastruktuurherstel nie. Die min opruimings wat wel plaasvind, is kosmeties en gerig op die roetes waar buitelandse afgevaardigdes mag verbyry. Dienslewering is vervang met beeldpoetsery.
Tydens die raadsvergadering op 30 Oktober het die VF Plus drie eise gestel: Ten eerste duidelikheid oor waar die R5 miljoen vir die G20-beraad vandaan kom, tweedens ‘n bewys dat die tesourie – soos die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) vereis – die uitgawe goedgekeur het, en derdens ’n waarborg dat hierdie besteding nie noodsaaklike dienste sal benadeel of die metro se skuldlas sal verhoog nie.
Tot op hede is nie een van die VF Plus se vrae beantwoord nie.
Dit spreek boekdele van ’n administrasie wat klaarblyklik meer waarde heg aan internasionale aansien as aan die basiese behoeftes van sy eie inwoners.
Dit is onaanvaarbaar dat die metro fondse kan mobiliseer vir glansgeleenthede, maar nie daarin kan slaag om ’n gebarste waterpyp te herstel of die krag aan te hou nie.
Die VF Plus sal aanhou om hierdie skynheiligheid uit te wys en druk uitoefen vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en werklike dienslewering.


