Die herinstelling van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se media- en openbare betrekkinge-eenheid onder leiding van lt. kol Kelebogile Thepa word verwelkom.
Dit is ʼn noodsaaklike stap om deursigheid en professionele kommunikasie binne die EMPD te herstel, veral in die lig van die ernstige aantygings wat die departement tans in die gesig staar.
Die VF Plus bevraagteken egter waarom dit eers die intense ondersoek van die Madlanga-kommissie geneem het voordat Ekurhuleni begin het om op te tree.
Hierdie kommissie het reeds diepgewortelde wanbestuur, wangedrag en beweerde korrupsie binne die EMPD blootgelê, insluitend bewyse dat die departement as ’n “misdadige onderneming” gefunksioneer het.
Die vertraging in aksie wek kommer oor die politieke wil van die ANC-geleide koalisieregering om werklik hervorming te bewerkstellig.
Probleme teister die EMPD al vir jare wat die geloofwaardigheid van die instansie ernstig geskaad het.
Die publiek se vertroue is ondermyn en die herinstelling van ’n enkele eenheid, hoe belangrik ook al, is nie voldoende om die omvang van die skade aan te spreek nie. Dit is slegs een korrektiewe stap in ’n departement wat dringend algehele hervorming benodig.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die herhaalde versuim van die regerende administrasie om daadwerklike en deurslaggewende aksie te neem, selfs terwyl aantygings opgehoop het en die publiek se veiligheid in die gedrang was.
Gegewe die erns van die bevindinge wat uit die Madlanga-kommissie na vore kom, doen die VF Plus ’n dringende beroep op die metro om interne hervormings binne die EMPD te versnel en senior leierskap aanspreeklik te hou.
Korrektiewe aksie moet nie net simbolies wees nie, maar struktureel en doelgerig en fokus op die uitroei van jare se verwaarlosing, wanpraktyke en politieke beskerming van korrupte amptenare.
Verder moet deursigtigheid nie ’n eenmalige gebaar wees nie. Die metro moet gereeld aan die publiek verslag doen oor die stappe wat geneem word om die EMPD se tekortkominge aan te spreek.
Die VF Plus bly verbind tot die stryd vir skoon regering en ’n metropolisie-departement wat werklik aanspreeklik is teenoor die gemeenskappe wat dit dien.


