Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-gestremde raadslid gestrand weens stukkende hysbak

Die voortgesette uitsluiting van ʼn gestremde VF Plus-raadslid van raadsvergaderings van die Rand West-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria) weens ʼn hysbak wat buite werking is, is skreiend.

Raadslid Charles Brough kon vandag vir die sewende keer vanjaar nie ʼn raads- of komiteevergadering bywoon nie omdat die hysbak in die munisipale gebou steeds buite werking is.

Die raadsaal is op die eerste vloer van die munisipale gebou in Randfontein en is fisiek onbereikbaar vir rolstoelgebruikers.

Hierdie situasie is nie net ’n logistieke probleem nie, maar ’n flagrante skending van inklusiwiteit en menswaardigheid.

Dit is onaanvaarbaar dat ’n verkose verteenwoordiger, wat die gemeenskap se mandaat dra, uitgesluit word van besluitneming weens ’n gebrek aan basiese toeganklikheid.

Dit is ironies dat dieselfde regering wat in openbare toesprake en beleidsdokumente gestremde Suid-Afrikaners as ’n prioriteit uitlig, faal om in die praktyk die mees basiese voorwaardes vir deelname te skep.

Daar bestaan selfs ’n nasionale departement van vroue, jeug en persone met gestremdhede in die presidensie, maar op plaaslike vlak word daardie beginsels eenvoudig geïgnoreer.

Die situasie het reeds tot ’n ernstige voorval gelei.

’n Paar maande gelede het ʼn sekuriteitsbeampte en ʼn helper, Brough uit desperaatheid in sy rystoel die trappe opgedra.

Op pad af het een van hulle gegly en die raadslid het met die trappe afgeval. Hy is beseer en moes mediese behandeling ontvang.

Hierdie gevaarlike en vernederende voorval moes nooit plaasgevind het nie.

Die VF Plus het herhaaldelik briewe gestuur aan die munisipale bestuurder, Thabo Ndlovu, met versoeke dat die hysbak herstel word. Alhoewel daar kortstondige pogings was, het die hysbak telkens weer gebreek.

Die enigste verduideliking wat die bestuurder kon bied, is die uitgediende verskoning dat onderdele nie beskikbaar is nie.

Die VF Plus het selfs versoek dat vergaderings ten minste hibried aangebied word sodat Brough digitaal kan deelneem.

Tot op hede is hierdie versoek eenvoudig geïgnoreer.

Dit is veral problematies aangesien hy ook ’n lid van die petisiekomitee is wat juis openbare deelname moet fasiliteer.

Die verval van die munisipale kantore en die onwilligheid om oplossings te vind, is ’n weerspieëling van ’n breër kultuur van nalatigheid.

Die enigste manier om hierdie verval om te keer, is vir kiesers om ʼn politieke party, soos die VF Plus, te steun wat daadwerklik die belange van alle inwoners, insluitend gestremdes, eerste stel en nie net lippetaal betoon soos die ANC nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.