Met die onlangse bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit, Alma, Vaalwater, Roedtan) is dit vir die VF Plus kommerwekkend dat die nodige verordeninge nie in plek is om die uitbraak te hanteer nie.
Dit is onrusbarend dat daar sedert die samesmelting van die munisipaliteite, onderskeidelik Modimolle en Mookgophong in 2016, geen poging aangewend is om munisipale verordeninge by te werk nie. Die verordeninge tussen die twee munisipaliteite het verskil en sou nie kon staan in ‘n hof nie.
Volgens die munisipaliteit beskik hy nie oor die nodige fondse om die verordeninge in plek te stel nie, tog kan die raad self die verordeninge kosteloos saamstel. Munisipale verordeninge, onder meer rusverstoring, rondloperdiere, smouse, swaarvoertuie wat oornag in die strate, ontbreek by dié munisipaliteit.
Die party bring sedert 2016 die behoefte aan hierdie munisipale verordeninge elke finansiële jaar onder die raad se aandag wanneer begrotings bespreek word maar die saak geniet nie aandag nie.
Rondloperdiere is al vir etlike jare ’n groot probleem regoor die provinsie en die laksheid waarmee ANC-beheerde munisipaliteite klagtes bloot ignoreer of onbelangrik ag, het ’n direkte impak op die ekonomiese vooruitgang van die landbousektor.
Inperking van kuddes waar die siekte voorkom, is belangrik in die bestryding daarvan. Wetsgehoorsame, kommersiële boere eerbiedig hierdie inperkings en pas bio-sekuriteitsmaatreëls toe, terwyl daar tans geen verordeninge bestaan om onwettige vervoer en vrye wyding van rondloperdiere te voorkom nie.
Die munisipaliteit is verplig om die nodige wetgewing te promulgeer. By gebreke daaraan kan die munisipaliteit strafregtelik aangekla word sou daar verliese gely word. Die hardwerkende, wetsgehoorsame landbougemeenskap moet nou boet vir die ANC se onbevoegdheid en laksheid om sy wetlike pligte na te kom.
Die VF Plus is gereed om self die verordeninge op te stel en dit aan die raad voor te lê vir aanvaarding en eindelike promulgering.


