Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bek-en-klouseer: Regering se jarelange versuim noodsaak verklaring tot ramptoestand

Die VF Plus dring aan op ‘n ramptoestand om die krisis met bek-en-klouseer in die beesvleisbedryf hok te slaan. Hierdie drastiese optrede is noodsaaklik omdat ministeriële taakspanne se aanbevelings sedert 2016 nie gevolg is nie.

Bek-en-klouseer is soos enige aansteeklike siekte: Indien die voorkoms daarvan vroeg opgespoor en verspreiding bekamp word, hoef dit nie ‘n krisis te veroorsaak nie.

Dit is bekend dat Afrika-buffels natuurlike draers van die siekte is en dat die bedryf altyd op verspreiding na vee bedag moet wees. Daarom het Onderstepoort dekades lank entstowwe in voorraad gehou om ‘n uitbreking van dié siekte in die kiem te smoor.

Teen 2016 het die destydse minister van landbou, me. Thoko Didiza, ‘n taakspan aangestel om die bedreiging van bek-en-klouseer te ondersoek, te midde van verval by Onderstepoort Biologiese Produkte. Dit is ‘n onderneming binne daardie departement.

Die taakspan se aanbevelings is nie opgevolg nie. Dieselfde geld vir ‘n nuwe taakspan wat in 2021 die saak moes ondersoek. Nóg ‘n taakspan, wat in September 2025 oor die saak aangestel is, loop hom tans teen ‘n muur van geen-optrede vas.

In 2016 was hierdie siekte net ‘n moontlike bedreiging, maar teen die einde van 2024 het dit reeds reuse skade in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangerig.

Weens ‘n volgehoue gebrek aan optrede, het dit teen Mei 2025 na van die land se grootste voerkrale versprei, wat bewys dat halfhartige optrede misluk het.

Die kern van die probleem is die gebrek aan beskikbare entstowwe sowel as die prys daarvan, gekwalifiseerde mensekrag om dit toe te dien en doeltreffende beheer oor die beweging van diere. Kwarentynmaatreëls help net as dit afgedwing word.

‘n Ramptoestand sal behels dat bykomende staatsfondse bestee moet word uitsluitlik om hierdie siekte te bekamp. Die vervaardigingsvermoë vir die korrekte entstof bestaan in Suid-Afrika, maar dit moet geaktiveer word.

Inenting moet op private– en gemeenskaplike gronde toegedien word. Private veeartse moet betrek word, aangesien die staat eenvoudig nie genoeg gekwalifiseerde personeel in diens het nie. Die staat moet vir die entstowwe betaal.

Verder is dit belangrik dat meer abbatoirs geakkrediteer word om besmette diere te slag. In hierdie opsig is dit belangrik om te weet dat die vleis van besmette diere geen gevaar inhou nie.

Die gevaar van verspreiding vanaf abbatoirs word bekamp in die wyse waarop afval hanteer word. Boere kan eenvoudig nie voortbestaan as hulle nie vee kan bemark nie. Dit sal ook tot oorbenutting van weiding lei.

Wetstoepassingsagentskappe en plaaswagte moet saamwerk om te verseker dat kwarentydmaatreëls doeltreffend en op alle paaie toegepas word. Dit is ook belangrik dat elektroniese stelsels vir naspeurbaarheid van vee algemene praktyk word.

Hierdie krisis het reeds vroeër gedreig, maar die ontplooiing daarvan het onder die huidige minister ontstaan. Dit sal ‘n onvergeeflike versuim wees as hy nie nou met die nodige dringendheid optree nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.