Die VF Plus wens alle suksesvolle matrikulante met hulle prestasies geluk en moedig diegene wie se eksamennommers nié in Dinsdag se koerant gaan verskyn nie, aan om moed te hou en wel die vakke waarin hulle nie geslaag het nie, oor te skryf.
In Suid-Afrika is daar drie eksamenowerhede wat die Nasionale Seniorsertifikaat eksamineer. Dit is die Onafhanklike Eksamenraad (IEB), die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SAKAI) en die departement van basiese onderwys. Terwyl die IEB bykans 18 000 kandidate laat skryf het en SAKAI meer as 6 000, het meer as 900 000 matrikulante die departementele eksamen geskryf.
Die IEB het ‘n slaagsyfer van 98,3% behaal, met 89,3% graadtoelatings. Die departement het ‘n slaagsyfer van 88% behaal, waarvan 46% graadtoelating behaal het.
Belangriker is die feit dat alle distrikte in die land ‘n slaagsyfer van 80% of hoër behaal het. SAKAI, wat veral onderwysinstellings bedien wat afstandsonderrig bied, het ‘n slaagsyfer van 73% behaal.
In haar aankondiging van die departementele uitslae, het die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, op ‘n holistiese benadering tot onderwys klem gelê, soos die uitgebreide gebruik van moedertaalonderrig en verligting van onderwysers se administratiewe las.
Die VF Plus onderskryf hierdie benadering, wat matriekuitslae as die eindpunt van ‘n vormingsproses benader, eerder as ‘n geïsoleerde mikpunt.
Vir die meeste Suid-Afrikaners is die Nasionale Seniorsertifikaat, of matriek soos dit algemeen bekend staan, die grondslag waarop hulle ‘n loopbaan bou. Die tragiese werklikheid is egter dat ‘n groot aantal suksesvolle matrikulante nie sukses behaal wanneer hulle werk soek nie. Dit dui op ‘n onaanvaarbare gaping tussen die wêrelde binne en buite die skoolterrein.
Dit beteken allermins dat matriek onbelangrik is. Dit is juis ‘n aanduiding dat die leerder die deursettingsvermoë het wat verdere sukses moontlik maak. Daarom is dit ook verblydend dat die deursetsyfer (graad eens wat tot by matriek vorder) tot 84% toegeneem het.
Die VF Plus wil werkgewers ook aanmoedig om jong mense die geleentheid te gee om hulself te bewys.
Die VF Plus staan krities teenoor die staat wat onderwys in diens van die heersende staatsideologie stel. Verder verwag die party dat onafhanklike onderwys sal groei in ‘n poging om van die staat se greep op onderwys te ontsnap. Nogtans is die dag wanneer uitslae bekendgemaak word, die tyd om saam met matrikulante te juig, of die wat nie sukses behaal het nie, aan te moedig.
Die VF Plus wens die matriekklas van 2025 net die beste toe.


