Die VF Plus sal more die mosie van wantroue in die EFF-speaker van die Ekurhuleni-metroraad, Nthabiseng Tshivhenga, steun.
Die party steun die mosie weens die speaker se magsmisbruik, haar eensydige optrede tydens raadsvergaderings en die feit dat sy nie haar party se wangedrag in raadsvergaderings aanspreek nie.
Van die staande reёls wat die speaker inkonsekwent, selektief of glad nie toepas nie, is:
• Reёl 66 – Handhawing van orde;
• Reёl 68 – Ignoreer ernstige oortredings van ʼn raadslid of raadslede; en:
• Reёl 69 – Ignoreer growwe wanordelike gedrag.
Die VF Plus het die speaker al dikwels in die verlede formeel versoek om vertroud te raak met die Munisipale Strukturewet ten einde haar pligte en mandaat as speaker na te kom.
Die jongste toevoeging tot haar lang lys oortredings is die bewerings wat handel oor wangedrag en bedrog in haar kantoor. Die bewerings sal ook more tydens die raadsvergadering behandel word.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die ANC/EFF-koalisie en opposisiepartye om hul rug styf te maak teen die speaker se onbevoegdheid en beweerde bedrog.
Ekurhuleni kan nie verder belas word met ʼn speaker wat onbevoeg is om haar pligte en verantwoordelikhede teenoor inwoners en raadslede na te kom nie.


