Die Wet van Transvaal geld deesdae op ʼn vlak soos nog nooit van tevore nie vir die inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift).
Die aansuiweringsbegroting wat vandag tydens ʼn spesiale raadsvergadering bespreek en goedgekeur is, maak onder meer voorsiening vir ʼn bykomende R30 miljoen vir die huur van chemiese toilette vir informele nedersettings in die munisipaliteit.
Dit bring die totale bedrag wat Mogale City in die huidige finansiële jaar bestee het op die huur van chemiese toilette, op R63 miljoen te staan.
Die toilet-debat het soos te wagte in ʼn moddergooiery ontaard.
Die chemiese toilette is veronderstel om slegs ʼn tydelike oplossing te wees terwyl mense in informele nedersettings op formele behuising wag.
Ongelukkig word onwettige immigrante onder die ANC-beheerde raad toegelaat om onverpoos die munisipaliteit in te stroom om verder druk op reeds oorbelaste inwoners te plaas.
Volgens die VF Plus gaan die praktyk om ʼn pleister op ʼn koeëlwond te plak nog vir jare en dekades voortduur.
En getroue belastingbetalers in Mogale City sal maar net moet aanhou opdok.