Die VF Plus sal aanhou met sy stryd om die rioollekkasie langs die R28 by die Sasol-vulstasie te laat herstel.
Riool vloei al vir dertien dae in die gebied en besoedel nie net die omgewing nie, maar is ook ʼn gesondheidsgevaar veral vir voetgangers wat dié roete tussen Krugersdorp en Randfontein gebruik.
Dit veroorsaak ook groot ongerief vir klante wat by die vulstasie stop.
Die VF Plus het verskeie kere die probleem onder die aandag van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se nutsdienste gebring, maar tot nou toe sonder optrede.
Die munisipaliteit se enigste laaigraaf wat vir die herstelwerk nodig is, is reeds weke buite werking. Die ander laaigraaf is jare gelede gesteel en nog nie vervang nie.
Ondernemings gaan reeds gebuk onder swak ekonomiese omstandighede en moet beskerm word. Hulle kan nie blootgestel word aan ʼn munisipaliteit wat nie by magte is om sy basiese werk te doen nie.
Die munisipaliteit kan nie toelaat dat stukkende infrastruktuur die vooruitgang van die dorp strem en dat inwoners daaronder moet ly nie.
Inwoners se belastinggeld moet doelgerig en effektief aangewend word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om te sorg dat die laaigraaf herstel word of dat een gehuur word om noodsaaklike herstelwerk te doen.


