fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus repudieer die EFF in die parlement oor sogenaamde wit beheer van die banksektor

Die VF Plus het die EFF vandag in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid ‘n les gegee oor rasseverhoudinge en die waarheid nadat gesê is dat wittes die banksektor in Suid-Afrika ‘besit’, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê die komitee het vanoggend die SEB-kommissie se verslag oor transformasie in die banksektor behandel toe Floyd Shivambo, adjunkpresident van die EFF, al die foute in die bankwese voor die deur van wittes gelê het en gesê het dat al die banke deur wittes besit word.

Volgens adv. Alberts het hy Shivambo dadelik gerepudieer en aan hom gesê dat hy onwaarhede verkondig.

“Ek het dit aan die voorsitter gestel dat hoogstens gesê kan word dat sommige wit individue aandele in banke besit.

“Shivambo het ter stawing van sy uitlatings na een ryk wit bankier verwys. Die waarheid is egter dat die meeste aandele tans besit word deur oorsese beleggers en plaaslike institusionele beleggers en nie wittes in die algemeen nie.

“Die voorsitter van die komitee, mev. Joanmariae Fubbs, het saamgestem dat daar nie veralgemeen moet word nie. Sy het dit ook gestel dat daar al hoe meer arm wittes is wat nie geïgnoreer kan word nie.

“Ek het aan die komitee gesê hierdie soort veralgemenings het ‘n polariserende effek op die land en dat mense van alle rasse versigtig moet wees om negatiewe veralgemenings oor mense van ‘n ander kleur te maak. Dit skep ‘n omgewing waar mense teen mekaar opgestel word.

‘Dit is gesê teen die agtergrond daarvan dat die SEB-kommissie nie eens behoorlike feite voorgelê het oor die werklike stand van transformasie in die banksektor nie. Die SEB-kommissie het erken hy het nooit voorheen toegang tot SEB-inligting in die ekonomie gehad nie omdat die departement van handel en nywerheid nooit navorsing daaroor gedoen het nie.

“Die SEB-kommissie het nou eers begin met navorsing en sal teen volgende jaar ‘n verslag daaroor uitreik. Een van die kommissie se amptenare, mnr. L. Sthetho, het getuig dat die inligting wat hulle het nie feitlik is nie.

“Dit dien as bewys dat Shivambo feite uit sy duim suig bloot om wittes by te kom,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.