Die VF Plus het in vandag se Gauteng-begroting vir die 2017/18 boekjaar positiewe sowel as negatiewe reaksies op die begroting van die LUR van finansies, Barbara Creecy gehad.
Die party het dit verwelkom dat R41 miljard aan onderwys toegeken word aangesien daar meer skole en onderwysers in Gauteng nodig is om leerders voldoende op te lei. Die bedrag van R40 miljard aan gesondheid is 'n sug van verligting omrede die gesondheidsdienste in die provinsie dringend aandag nodig het.
Wat inkomste vir die provinsie aanbetref het motorvoertuiglisensies 63% van Gauteng se inkomste gegenereer in die vorige boekjaar met 'n bedrag van R3.3 miljard. Die VF Plus is bekommerd dat verkeersboetes, handel in finansiële bates en laste en rente slegs 'n bedrag van R604 miljoen ingebring het.
Personeelbesteding het in die vorige boekjaar 'n bedrag van R60 miljard beloop waarvan 50% in die onderwys gespandeer is. Die VF Plus is van mening dat hierdie bedrag afgebring kan word indien die regte mense in die regte poste aangestel word wat wel toegerus is om die werk te kan doen. Die party sê dat salarisse te hoog is vir top amptenare en dat dit drasties gesny moet word.
In die maatskaplike welsynsdienste is 'n bedrag van R759 miljoen gespandeer wat die VF Plus se standpunt bevestig dat Gauteng besig is om in 'n welsynstaat te ontaard terwyl daar slegs 'n bedrag van R830 miljoen spandeer was om nuwe skole in die provinsie te bou en dit is 'n groot rede tot kommer.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op die 2017/18 begroting gesê dat die begroting gemengde gevoelens veroorsaak.
"Die VF Plus is van mening dat die LUR vir finansies groot bedrae aan onderwys en gesondheid toegeken het juis om die ANC in Gauteng se beeld te probeer red oor die choas wat in hierdie departemente heers. Die provinsie se ekonomie gaan nie net oorleef op die inkomste van motorvoertuiglisensies nie, maar daar sal indringend gekyk moet word om meer beleggers na Gauteng te lok. Dit gaan egter nie gebeur alvorens misdaad hokgeslaan word, gesondheid en onderwys stabiliseer en werk deur die privaatsektor geskep gaan word nie."
"Geen belegger gaan hier in Gauteng belê met die onstabiliteit wat tans aan die gang is nie."
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za