Die departement van waterwese en sanitasie en die Blou Skerpioene gaan ingryp by die JB Marks-plaaslike munisipaliteit nadat die VF Plus ‘n versoek gerig en ‘n klagte by die departement ingedien het oor die groeiende rioolkrisis in Potchefstroom.
Die departement het ‘n afvaardiging na Potchefstroom gestuur en het, na ‘n ondersoek ter plaatse, onderneem om direktiewe uit te reik en die probleem ook na die Blou Skerpioene te verwys vir moontlike vervolgings.
Tydens die departement se besoek het die VF Plus die afvaardiging vergesel en die situasie toegelig
Hierdie keerpunt volg nadat die VF Plus reeds verskeie versoeke tot die JB Marks-munisipaliteit gerig het om stappe te neem om ‘n gesondheids- en besoedelingskrisis af te weer.
Die VF Plus het op 2 Februarie weer eens die burgemeester, Kgotso Khumalo, die munisipale bestuurder en administrateur versoek om dringend stappe te neem om die probleem op te los. Tot op hede was daar geen reaksie van die munisipaliteit nie.
Die rioolnetwerk in Potchefstroom is oorlaai en vervalle weens ‘n totale gebrek aan onderhoud oor jare heen. Intussen word nuwe ontwikkelings goedgekeur wat die stelsel verder oorlaai.
Die bekende kanaal, die Wasgoedspruit, wat regdeur die dorp by die Bult loop, is tans letterlik ‘n rioolsloot wat boonop in die Mooirivier uitmond.
Die gesondheidsgevare en die erge besoedelingskade is voor die hand liggend. Inwoners en besoekers word blootgestel aan ‘n ondraaglike stank wat oor die gebied hang.
Dit raak ook die groot landbougebied waar die Mooirivier na die Vaalrivier afvloei. Die omgewingskade is enorm.
Die VF Plus sal die ondersoeke en die beloofde departementele stappe teen die munisipaliteit monitor om te verseker dat die nodige regstellende stappe geneem word. Dit is belangrik dat die verantwoordelike ampsdraers en amptenare tot rekenskap gebring word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas op ANC-beheerde munisipaliteite wat gesondheids- en omgewingskrisisse skep deur hul onbeholpenheid, wanbestuur en korrupsie.
Navrae: 082 457 7774