Die VF Plus veroordeel die optrede van twee studente wat gister betrap is waar hulle met ‘n outomatiese vuurwapen by ‘n studente-betoging in Braamfontein rondgeloop het.
Studente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) is die afgelope week besig met ‘n betoging in Braamfontein.
Die polisie het twee studente opgemerk waar hulle met ‘n outomatiese geweer in Stiemenstraat in Braamfontein geloop het.
Die studente het in ‘n voertuig geklim en weggery. Hulle is kort daarna deur die blitspatrollie in Aucklandpark in hegtenis geneem. ‘n Gelaaide magasyn is ook in die motor gevind.
Die polisie verkeer onder groot druk en hul taak word bemoeilik deur onbeheerde studente-betogings waar eiendom beskadig word.
Onverantwoordelike studente wat vuurwapens na ‘n studentebyeenkoms bring, is kommerwekkend en word sterk veroordeel. Dit kan tot ‘n tragedie ly.
Die VF Plus stem saam met die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, dat die verspreiding van onwettige vuurwapens ‘n groot probleem vir die polisie is.
Die vinnige optrede van die polisie dien as voorbeeld dat oortreders vasgevat sal word wanneer hulle die landswette oortree.