(Debat in parlement oor Menseregtedag en menseregte in die tyd van Covid-19)
Hoe word Menseregte en Covid-19 in simbiose geplaas? Hoe word menseregte te midde van die pandemie bevorder en het Suid-Afrikaners in hierdie konteks werklik rede om iets in dié verband te vier?
Wanneer menseregte in Suid-Afrika ter sprake is, moet in gedagte gehou word dat ‘n regering aan bewind is wat geen waarde heg aan die regte van die land se inwoners nie. Die verval op alle vlakke van regering laat geen twyfel daaroor nie.
Die Handves van Menseregte in die Grondwet gaan mildelik om met woord en voorskrif oor menseregte. Daar is verwysings na lewe, omgewing, behuising, gesondheidsorg, voedsel, water, veiligheid, kinders, opvoeding en vele meer.
Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde in die land. Wat Covid-19 aanbetref, het die ANC-regering met sinnelose regulasies ‘n teelplaas geskep vir velerlei menseregteskendings wat selfs bygedra het tot onnodige lewensverlies.
‘n Verslag van die Internasionale Kommissie van Juriste wys op die menseregteskendings van onder andere vroue en gesondheidswerkers in Suid-Afrika. Geweld teenoor vroue het toegeneem weens die beperkende omstandighede van die streng inperking.
Net so ernstig was die regering se onvermoë om gesondheidswerkers te voorsien van voldoende beskermende toerusting.
Die korrupsie en bedrog wat rondom dié toerusting plaasgevind het, het ‘n groot aandeel gehad in die dood van talle gesondheidswerkers terwyl die skuldiges onaangeraak en rojaal leef op die winste.
Gebrekkige kwarantyngeriewe en die korrupsie wat dáár plaasgevind het, het ook tot ernstige menseregtevergrype gelei. Danksy die direkte ingryping van die VF Plus is sowat 1 600 mense vanuit haglike kwarantynkampe na leefbare omstandighede verskuif.
Talryke ander gevolge van die inperking was onder meer ‘n afskeping van mense wat aan ander ernstige siektetoestande gely het en toenemende maatskaplike probleme weens ‘n ekonomiese inkrimping met gepaardgaande verarming.
Noodsaaklike operasies is met tot ‘n jaar uitgestel en gewone siektetoestande het ernstig en selfs lewensbedreigend geraak weens ‘n gebrek aan behoorlike behandeling.
In Suid-Afrika is tans 11.1 miljoen werklose mense waarvan 200 000 op straat leef. Altesame 13.6% van die land se mense woon in informele behuising, daar is ‘n amptelike behuisingsagterstand van 2.6 miljoen, 5.3 miljoen huishoudings en 21 miljoen mense het nie toegang tot skoon water nie.
Les bes is die huidige warboel rondom Covid-19-inentings reeds besig om op ‘n tragedie af te stuur ten koste van moontlik duisende menselewens. Dit weens die onbevoegdheid van die ANC en die alomteenwoordigheid van korrupsie.
By hierdie lys kan plaasmoorde gevoeg word, rasgegronde wetgewing soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding. Mense sterf in die land weens vervalle infrastruktuur soos paaie en hospitale.
Teen hierdie agtergrond moet menseregte in Suid-Afrika gemeet word. Daar was, en sal nooit enige bevordering van menseregte in Suid-Afrika kan wees onder ‘n ANC-bewind nie.