Die VF Plus in die Swartland-plaaslike munisipaliteit het ʼn suksesvolle vergadering tussen gemeenskapsleiers in dié munisipaliteit en Eskom gereël oor kragprobleme wat daagliks in sekere gebiede voorkom.
Eskom lewer direk krag aan Abbotsdale, Chatsworth, Kalbaskraal en Malmesbury.
Inwoners van dié gebiede is soms vir dae sonder krag buiten die gewone beurtkragskedules.
Eskom se afvaardiging het bestaan uit die Wes-Kaap se algemene kommunikasiebestuurder, mnr. David Ockhuis, me. Amanda Matthee van kliëntedienste en die plaaslike toesighouer, mnr. Siyabonga Zuma.
Buiten vir die gemeenskapsleiers het talle belangstellendes die vergadering by Wesbank in Malmesbury bygewoon.
Gemeenskapsleiers het die kragprobleme wat in hul onderskeie gebiede ervaar word, aan Eskom oorgedra.
Probleme soos foutiewe kragbokse, die installasie van nuwe kragbokse, kabeldiefstal en vandalisme is bespreek.
Daar is besluit dat twee verteenwoordigers uit elke gemeenskap hulself beskikbaar sal stel om kragprobleme aan Eskom deur te gee deur die verskillende platforms waarvan die Alfred Chatbox die bekendste is.
Baie inwoners beskik nie oor internet-geriewe om self probleme aan te meld nie en dus sal die verteenwoordigers namens hulle optree.
ʼn Whatsapp-groep is ook gestig sodat die onderskeie rolspelers van die gemeenskap en Eskom vinniger met mekaar kan kommunikeer oor kragprobleme.
Die VF Plus is bly dat Eskom na maande se volgehoue druk die vergadering bygewoon het om die kragprobleme in die gemeenskappe te bespreek.
Die party vertrou dat Eskom se dienslewering aan inwoners nou sal verbeter en dat kragprobleme gouer opgelos sal word.
Die VF Plus gee om vir die inwoners van die Swartland en sal altyd in die beste belang van hulle optree.