Die VF Plus het tydens ʼn onlangse vergadering tussen die metroraad van Ekurhuleni en Eskom se Gautengse afvaardiging die kragverskaffer gekonfronteer oor die effektiewe lewering van krag aan die metro.
Die VF Plus wou by Eskom weet wat die impak van beurtkrag op die metro se kraginfrastruktuur het en watter stappe hy gaan neem om die situasie te verbeter.
Dit is algemeen bekend dat die bestaande kraginfrastruktuur nie gebou is om die volle omvang van beurtkrag soos tans toegepas, te hanteer nie.
Eskom is verantwoordelik om die transformators en substasies te herstel wat krag lewer aan Ekurhuleni.
Ekurhuleni is op sy beurt weer verantwoordelik om die transformators en substasies wat die toevoer na die metro herlei, te herstel en in stand te hou.
Eskom het hierop aangedui dat hy op elke gebied studies doen om te bepaal hoeveel krag word benodig en watter effek die aan- en afskakel van krag op die infrastruktuur het.
Dit is onder meer om te bepaal of die transformators en die substasies wat herstel word, se nuwe onderdele die stres van beurtkrag kan hanteer.
Gebiede soos Benoni en Kemptonpark gaan gereeld gebuk onder kragonderbrekings omdat substasies en kraginfrastruktuur ingee weens beurtkrag.
Die VF Plus sal Eskom hou by sy onderneming en projekte soos die installering van nuwe transformators, die herstel van oues en die algemene instandhouding en bestuur van die kraginfrastruktuur.
Die party sal dit behoorlik monitor namens die inwoners van Ekurhuleni en sal aanhou druk plaas op die metro om sy plig na te kom om gebrekkige kraginfrastruktuur op te gradeer.
Die vergadering tussen Ekurhuleni-raadslede en Eskom het opnuut gewys hoe onverantwoordelik die ANC/EFF-koalisie die metro bestuur.
Dit word onderstreep deur die feit dat die Ekurhuleni-metro se burgemeesterskomiteelid vir energie, mnr. Leshaka Manamela, nie eens die moeite gedoen het om die belangrike vergadering met Eskom by te woon nie.