In ’n daad van simboliese protes om die groeiende verval van paaie in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit uit te lig, het die VF Plus se takke in Secunda die afgelope naweek ’n boom geplant in ʼn slaggat in PDP Krugerstraat in Secunda.
Dié spesifieke slaggat is nou al vir maande ʼn doring in motoriste se vlees al is dit telkens by die munisipaliteit aangemeld.
Raadslede dien gereeld verslae in oor die haglike toestand waarin padinfrastruktuur verkeer.
Die VF Plus self het al verskeie briewe oor die slaggate geskryf aan die burgemeester, Nhlakanipho Zuma en die munisipale bestuurder, mnr. Elliot Maseko, maar daar gebeur niks.
Intussen fokus die burgemeester op sy sogenaamde “Ijima Lokuhlwengiso”-projekte in Embalenhle, eMzinoni en Wyk 14 waar ʼn tussenverkiesing binnekort plaasvind.
Munisipale hulpbronne en werkers word daar ingespan om die ANC se verkiesingsveldtog te bevoordeel, terwyl ander dorpe aan hul eie lot oorgelaat word.
Waar slaggate wel herstel word, is dit van só ‘n swak gehalte dat ʼn nuwe gat in ʼn japtrap weer vorm.
Intussen moet inwoners opdok om skade aan hul voertuie se bande, wielvellings en onderstelle te herstel en moet alles in hul vermoë doen om ongelukke te vermy.
Die VF Plus dring daarop aan dat die munisipaliteit onmiddellik ’n volhoubare plan in werking stel vir die herstel van paaie in al sy dorpe en om toe te sien dat hulpbronne regverdig aangewend word.
Die burgemeester moet ophou om net die ANC se belange te dien en begin om sy pligte teenoor alle inwoners na te kom.


