Die moontlike uitkomste van die nasionale dialoog moet geweeg word aan deelname aan die nasionale konvensie met die eindelike vraag of daar opgetree gaan word om probleme reg te stel.
Alhoewel president Cyril Ramaphosa vandag met vraetyd in die parlement gesê het dat alle Suid-Afrikaners by die nasionale konvensie teenwoordig was, weet hy dat dit nie die geval is nie.
Daar was van meet af vanuit verskeie oorde geldige kritiek teen die dialoog. Politieke partye wat die meerderheid stemme in die parlement verteenwoordig, insluitend die VF Plus en die DA, bekende stigtings, burgerlike organisasies en selfs vakbonde, het nie deelgeneem nie.
Die wesenlike probleem met die nasionale dialoog vir die VF Plus is dat die ANC dit deurentyd duidelik gemaak het dat hy nie sal afwyk van sy beleidsrigtings wat regstellende aksie (RA), swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en onteiening sonder vergoeding insluit nie.
Dit is die kernoorsake van die land se probleme en om na remedies te soek vir die gevolge daarvan, soos werkloosheid, korrupsie en die verval van munisipaliteite, sou daarom blote oëverblindery wees
Om hierdie redes was die meerderheid Suid-Afrikaners nie by die konvensie teenwoordig nie. Die president weet dit en die mense van Suid-Afrika weet dit.
Oor die dertien uitkoms-gefokusde terreine wat by die konvensie geïdentifiseer is, verstaan die VF Plus dat geen besluit by die konvensie oor enige hiervan geneem is nie.
Dit gee reeds ‘n aanduiding van koers waarheen die nasionale dialoog op pad is.
Praat en die identifisering van probleme gaan niks aan Suid-Afrika se heil doen nie. Almal het voor die dialoog reeds presies geweet wat die land se probleme is. Die grootste daarvan is die ANC.
Om nou van die publiek te verwag om ‘n lysie van probleme op te stel soos krane sonder water en kragprobleme, is daarom misplaas.
Volgens pres. Ramaphosa sal ‘n “verteenwoordigende komitee” die saak nou verder voer. Dit was ‘n voorspelbare uitkoms. Hiermee word die blikke bloot verder pad af geskop sonder enige daadwerklike optrede.
Die VF Plus sou nogtans van die president wou weet of die ANC van sy kant bereid sou wees om beleid te verander of te aanvaar rondom die ekonomie indien die uitkomste van die nasionale dialoog wel daarop sou aandring.
Dit is immers al wat Suid-Afrika kan red. En die ANC het reeds gesê hy is nie daarvoor te vinde nie.


