Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sukses vir Ditsobotla-inwoners weens nasionale ingryping

Die VF Plus verwelkom die aankondiging dat die nasionale regering direk by die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit in Lichtenburg gaan ingryp.

Die inwoners van Lichtenburg en Coligny ly al lank onder die wetteloosheid en wanbestuur wat hierdie munisipaliteit reeds vir jare kenmerk.

Die VF Plus en instansies soos Sakeliga het herhaalde versoeke vir so ‘n ingryping tot die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), minister Velenkosini Hlabisa, gerig.

Die party het in Augustus 2024 in ‘n formele versoek aan die minister uitgewys dat ‘n nuwe, meer omvattende wyse van ingryping in gevalle soos Ditsobotla noodsaaklik is.

Dit is toe voorgestel dat ‘n interdepartementele, multidissiplinêre ingryping wat die nasionale tesourie, Cogta, asook wetstoepassingsagentskappe en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) insluit, in Ditsobotla geïmplementeer word.

Die minister het vandag tydens ‘n vergadering met Noordwes se provinsiale regering en die munisipale raad in Ditsobotla, ‘n gedetailleerde uiteensetting van die regering se ingryping gegee.

‘n Nasionale kabinetsverteenwoordiger sal die ingryping lei tesame met ‘n span kundiges wat direk aan die kabinet verantwoording doen. Alle uitvoerende magte van die burgemeester in Ditsobotla, die raad en die munisipale bestuur, is aan die kabinetsverteenwoordiger oorgedra. Dit sluit alle finansiële besluitneming in.

Die span kundiges is onder meer saamgestel uit verteenwoordigers van die nasionale tesourie (NT), ingenieurs en kenners van plaaslike regering.

Hulle opdrag is om onder meer behoorlike finansiële stelsels in werking te stel en aankoop-prosesse na te gaan. Onreëlmatige kontrakte en tenders moet geïdentifiseer word vir verdere ondersoek en optrede.

Hierdie span sal bygestaan word deur ‘n taakspan bestaande uit die polisie, NGV en die staatsveiligheidagentskap wat onreëlmatighede en korrupsie moet identifiseer, ondersoek en strafregtelike vervolging instel.

Die VF Plus se voorstelle vir ‘n doeltreffende ingryping om die wetteloosheid in Ditsobotla stop te sit en dienste te herstel, is dus volledig aanvaar.

Die ontplooiing van wetstoepassingsagentskappe en die NGV as deel van hierdie artikel 139(7) ingryping, is ‘n eerste in Suid-Afrika. Die VF Plus vertrou dat ingryping doeltreffend gedoen sal word en wet en orde in Ditsobotla só herstel sal word.

Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van doeltreffende samewerking tussen politieke partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) en burgerlike organisasies soos Sakeliga wat hande vat om inwoners se belange te beskerm en dienslewering te herstel.

Die VF Plus sal voortgaan om doeltreffend, konstruktief en op kreatiewe wyses in te tree teen munisipale verval in Noordwes.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.