Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Limpopo-maatskappy beveel om R69 miljoen aan Mogalakwena terug te betaal weens bedrieglike kontrak

Die VF Plus verwelkom die beslissing van die spesiale tribunaal wat die konstruksiemaatskappy, Easyway, Tarmac, Pave and Projects CC, beveel het om byna R69 miljoen aan die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane/Potgietersrus) terug te betaal.

Dié beslissing volg op ʼn suksesvolle aansoek van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat bevind het dat die maatskappy in 2018 ʼn tender van R167,9 miljoen vir waterinfrastruktuur onregmatig verkry het deur vals verklarings oor vorige projekte en kwalifikasies.

Die maatskappy het onder meer beweer dat hy drie projekte van meer as R50 miljoen voltooi het. Een van die projekte het egter slegs R6,1 miljoen beloop en die ander een bestaan glad nie.

Die SOE het ook bevind dat die maatskappy se kontrakteursgradering hom wettiglik gediskwalifiseer het om hierdie tender te ontvang.

Die VF Plus beskou die beslissing van die spesiale tribunaal as ʼn belangrike stap in die stryd teen korrupsie en wanadministrasie in plaaslike regering.

Mogalakwena sukkel reeds jare om betroubare en skoon water aan inwoners te verskaf. Die probleem word vererger weens vervalle infrastruktuur, finansiële wanbestuur en die politieke beskerming van korrupte kontrakteurs.

Hierdie is ook ʼn bewys dat kontrakteurs op meriete aangestel moet word en nie weens politieke of persoonlike bande nie.

Kontrakteurs wat leuens vertel oor hul kwalifikasies of wat verkrygingsprosesse manipuleer, moet op ʼn swartlys geplaas word en vir geen toekomstige tenders oorweeg word nie.

Dit is die enigste manier om aanspreeklikheid en dienslewering te herstel.

Mogalakwena verdien ’n munisipaliteit wat vir hulle werk – nie een wat hul swaarverdiende belastinggeld aan onbevoegde kontrakteurs uitdeel nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.