Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus nader owerhede om herstelwerk aan paaie in Stilfontein te prioritiseer

Die VF Plus het toegesien dat herstelwerk aan paaie in Stilfontein geprioritiseer word nadat die N12-hoofweg in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) in Noordwes tydelik gesluit was weens oorstromings.

Verkeer word sedert 27 Maart herlei deur dié dorp wat die paaie erg beskadig het.

Die N12 se stormwaterstelsel kon nie al die reënwater hanteer nie en daar was ook ʼn blokkasie in een van die pypleidings.

Skade aan randstene, verkeersirkels, sypaadjies en slaggate wat al groter word, is van die probleme waarmee inwoners van Stilfontein gekonfronteer word.

Die VF Plus het gister ʼn vergadering saamgeroep met munisipale amptenare, verteenwoordigers van Sanral en gekontrakteerde konstruksiemaatskappye om ʼn oplossing te vind.

Die VF Plus het ook ʼn dringende skrywe in dié verband gerig aan die premier van Noordwes, Lazarus Mokgosi, en die LUR vir paaie en vervoer, Mosimanegape Wessels Morweng.

Amandla Konstruksie het intussen die stormwaterstelsel ondersoek en die blokkasie opgespoor.

Die VF Plus kan bevestig dat ʼn verteenwoordiger van die provinsiale regering tydens die vergadering onderneem het dat daar vandag met herstelwerk begin sal word.

Die provinsie sal die helfte van die toerusting en arbeid voorsien, asook 50 sakke sement.

Die munisipaliteit is ook aangesê om 200 sakke teer beskikbaar te stel vir die nodige herstelwerk.

Ebersohn Konstruksie is ook besig om die deurloop na die tweede pan langs die hoofweg oop te grawe sodat reënwater weg van die N12 kan vloei.

Die party sal die vordering met herstelwerk monitor.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.