Die VF Plus het vandag teen die fiskale raamwerk gestem en beywer hom steeds vir ‘n beter begroting waar BTW nie verhoog nie en daar belastingverligting is.
Die VF Plus is oortuig daarvan dat ‘n BTW-verhoging nie wenslik is nie en dit is duidelik dat alle partye in die parlement gekant is teen sodanige verhoging.
Daar is maniere om die huidige fiskale raamwerk te wysig sodat die begrotingstekort aangespreek word sonder belastingverhogings.
Die parlement is in die verlede grotendeels bloot as rubberstempel gebruik om begrotings goed te keur. Tye is egter besig om te verander en hierdie verandering moet aangewend word in die belang van die publiek wat nie verder belas kan word nie.
Alles moontlik moet nou gedoen word om volhoubare planne te beraam om uit die huidige fiskale krisis te kom. Verhoogde belasting soos BTW is teenproduktief en eerder ‘n desperate korttermyn-plan wat die land bloot verder in die dryfsand gaan laat wegsink.
Suid-Afrikaners is vuisvoos weens die land se swak ekonomie, groeiende werkloosheid en swak dienslewering.
‘n Belasting-opstand sal verstaanbaar wees indien belastings verder verhoog, die ekonomie nie groei nie en dienslewering nie verbeter nie.
Oneffektiewe staatsbesteding en vermorsing moet aangespreek word, terwyl beter beleid gevolg word om ekonomiese groei te stimuleer.
Die VF Plus het lid van die regering van nasionale eenheid (RNE) geword om juis by te dra tot ‘n gunstige omgewing vir ekonomiese groei. Dit is juis daarom dat die party teen hierdie raamwerk stem wat die teenoorgestelde gaan bewerkstellig.


