Die inwoners van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) staan voor ʼn groot finansiële uitdaging met die nuwe tariefverhogings soos vervat in die metro se konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar.
Die voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
• Krag verhoog met 12,74%
• Water en sanitasie met 5,5%
• Eiendomsbelasting met 5%
• Vullisverwydering met 6%.
Dié verhogings gaan verdere druk plaas op huishoudings en sakeondernemings wat reeds sukkel om kop bo water te hou.
Die VF Plus het sterk standpunt ingeneem teen die beplande verhogings wat ekonomiese groei gaan kniehalter en belastingbetalers verder onder druk gaan plaas.
Alhoewel dienslewering reeds ver tekortskiet, gaan die ANC/EFF en sy koalisievennote voort om hul kiesersbasis te bevoordeel met sy “assistance to the poor” (ATTP)-program. Met hierdie program maak hy al hoe meer gesinne afhanklik van staatshulp wat armoede in die metro vererger.
Die VF Plus het ‘n dringende beroep op die metro gedoen om eerder te fokus op skuldinvordering en die verwydering van onwettige krag- en waterverbindings.
Statistiek toon dat kragverliese tans op 23.65% staan, terwyl sowat 40 MWh gratis basiese elektrisiteit reeds aan behoeftige huishoudings verskaf word.
Die VF Plus het versoek dat die voorgestelde tariefverhogings heroorweeg word en dat alle munisipale tariefverhogings tot ‘n maksimum van 5% beperk word.
Die party het ook ʼn skrywe in dié verband aan die speaker, Eugene Johnson, gerig om die huidige administrasie te versoek om die voorstel te oorweeg en eerder te fokus op skuldinvordering om sy inkomstestroom te verbeter.
Die VF Plus bly vasberade om vir die regte van belastingbetalers te veg en sal voortgaan om druk op die plaaslike regering te plaas om billike en volhoubare oplossings te vind.


