Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, mnr. Jackie Macie, het onderneem om so gou moontlik nuwe voertuie beskikbaar te stel aan die onderskeie plaaslike eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS).
Dit volg nadat die Vryheidsfront Plus in ‘n dringende navraag aan Macie sy kommer uitgespreek het oor die feit dat hierdie noodsaaklike eenhede geen enkele voertuig ontvang het tydens die onlangse oorhandiging van 74 nuwe polisievoertuie nie.
Die gebrek aan voldoende voertuie vir hierdie noodsaaklike eenhede belemmer gereeld hul vermoë om in gemeenskappe sigbaar te wees, stiptelik op noodgevalle te reageer en die veiligheid van slagoffers van gesinsgeweld (GBV) te verseker.
Die VF Plus prys wel bogenoemde voertuig-ontplooiing aan onder meer Vispol, gemeenskapspolisieforums (GPF) en speurtakke wat ongetwyfeld polisiesigbaarheid en operasionele kapasiteit sal verbeter en wetstoepassers in staat sal stel om hul pogings om misdaad in hoë-prioriteitsgebiede te bekamp, te verskerp.
Dit is egter baie kommerwekkend dat die GKS-eenhede so afgeskeep word. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie eenhede reeds met te min voertuie in ‘n werkende toestand moet funksioneer.
Verskeie eenhede het slegs een of twee werkende voertuie wat verskeie dorpe moet bedien. Daar is tans vyftien sulke eenhede in Mpumalanga.
Die GKS-eenhede veg daagliks teen seksuele misdrywe teen kinders, persoonsgerigte misdade (waar die gesin betrokke is), onwettige verwydering van kinders onder die ouderdom van twaalf en misdaad wat deur die elektroniese media gefasiliteer word.
Die VF Plus vra tevergeefs sedert 2020 konsekwent vir die toewysing van nuwe voertuie aan hierdie kritieke eenhede, en sal dus druk toepas dat Macie by sy woord bly.
Die party bly toegewyd in sy oorsigrol en sal voortgaan om die implementering van hierdie ingryping te monitor om die volgehoue impak daarvan op die vermindering van misdaad in die provinsie te verseker.