Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni kan nie R177 miljoen aan Eskom betaal vir opgradering van mini-substasies

Die Ekurhuleni-metro se finansies het sodanig agteruitgegaan dat hy nie eens R177 miljoen as deposito aan Eskom kan betaal vir die opgradering van vier mini-substasies in Chloorkop nie.

Indien Ekurhuleni se verhouding met Eskom onberispelik was, sou Eskom as ʼn reël nie só ‘n deposito van die metro verwag het nie. Ekurhuleni skuld egter die kragvoorsiener sowat R2 miljard.

Teraco, ʼn maatskappy wat die datasentrum aan die metro voorsien, skiet nou die deposito voor.

Daarteenoor sou Ekurhuleni ʼn deposito van R307 miljoen van Teraco kon hef wat in ʼn rentedraende rekening geplaas kon gewees het.

Dit sou ʼn bykomende inkomste vir die metro kon genereer.

Die finansiële geleentheid is nou gemis weens die metro se verswakte finansiële toestand.

Dit blyk dat Ekurhuleni al hoe meer van eksterne entiteite soos Teraco, ʼn kliënt van die metro, afhanklik gaan wees om sy verpligtinge na te kom.

Die onmiddellike voordele van die Escrow-borgooreenkoms kan nie ontken word nie, maar is nie ʼn volhoubare benadering tot die finansiële bestuur van die metro nie.

Die verswakkende finansiële status van die metro kan lei tot reputasieskade en kan toekomstige beleggingsgeleenthede beïnvloed.

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die burgemeester, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, gevra om die raad se strategiese ingryping te verduidelik en om te sê watter langtermynplanne in plek is om Ekurhuleni se finansiële verhouding met Eskom te herstel ten einde weer te kwalifiseer vir ʼn deposito-kwytskelding.

Die herstel van Ekurhuleni se finansiële integriteit moet ‘n prioriteit wees om langtermyn-volhoubaarheid te verseker en die belange van inwoners en ondernemings te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.