Die VF Plus doen ‘n ernstige beroep op al die inwoners van die Ekurhuleni-metro om ‘n aktiewe rol te speel in die komende openbare deelnameproses rakende die metro se konsepbegroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/26 finansiële jaar.
Die VF Plus is bekommerd oor verskeie aspekte van die begroting wat belastingbetalers asook die metro se finansiële stabiliteit negatief kan beïnvloed.
Skerp tariefverhogings:
Die konsepbegroting stel verhogings van 17% vir water, 11.32% vir elektrisiteit, 10% vir sanitasie en 6% vir vullisverwydering voor. Hierdie stygings sal verdere druk plaas op huishoudings wat reeds swaarkry.
Oorbelasting van betalende inwoners:
Met ’n invorderingsteiken van 90%, bly die stad afhanklik van ’n krimpende basis van betalende inwoners, terwyl probleme met inkomste-invordering steeds nie aangespreek word nie.
Stadige begrotingsbesteding:
Halfjaarverslae toon dat slegs 58% van sy bedryfsbegroting bestee is en 62% van inkomste ontvang is wat vrae laat ontstaan oor die akkuraatheid van beplanning en die doeltreffendheid van dienslewering.
Openbare veiligheid en infrastruktuur:
Die party is tevrede met ʼn raadsbesluit wat die aansluitingsfooi van gesteelde of beskadigde kragkabels geskrap het, maar die metro moet alles in sy vermoë doen om sulke misdaad te voorkom en infrastruktuur te beskerm.
Die VF Plus stel die volgende voor:
• Geen verhoging in eiendomsbelasting vir 2025/26 nie.
• Verbeterde skuldverligting en -aansoekprosesse vir behoeftiges.
• ’n Verbintenis om geen nuwe lenings oor die mediumtermyn-inkomsteraamwerk aan te gaan nie.
• Verhoogde toewysing vir herstelwerk en instandhouding.
Die VF Plus moedig elke inwoner, gemeenskapsgroep, ondernemer en burgerlike organisasie aan om openbare vergaderings by te woon, geskrewe kommentaar in te dien en direk met raadslede in gesprek te tree tydens die deelnameproses.
Saam kan die metro verantwoordbaar gehou word en verseker word dat die begroting die werklike prioriteite en behoeftes van inwoners weerspieël.


