Die VF Plus in Mpumalanga verwelkom Vlak Drie se heropening van Suid-Afrika se nasionale parke en in besonder die heropening van die wêreldbekende Nasionale Krugerwildtuin. Dit is egter irrasioneel en onverstaanbaar waarom begeleide toere steeds nie in die wildtuin toegelaat word nie.
Regulasies wat toergidse en gidsvoertuie in die wildtuin steeds verbied, moet sonder meer nagesien en heroorweeg word en die regering sal moet besin om ook in die belang van die streek se ekonomie op te tree.
In ag genome die groot aantal mense wat van busse, mini-busse en ander vorme van openbare vervoer gebruik maak, is dit irrasioneel om nie onder Vlak Drie met die nodige gesondheidsprotokolle in plek ook toere in die wildtuin en ander natuurreservate toe te laat nie.
Die VF Plus gaan onderhandel met die provinsie se LUR vir veiligheid, sekuriteit en toerisme, Cynthia Tshabalala, in ‘n poging om die weg te baan om dit vir toergidse en soortgelyke sake-ondernemings moontlik te maak om hul werk te hervat.
Dié mense is soos baie ander al desperaat om weer te begin werk en om ‘n inkomste te genereer tot voordeel van die provinsie en die land se ekonomie.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830