fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus maak sterk kapsie teen begrotingsprioriteite en tariefverhogings van Matlosana-munisipaliteit

Die VF Plus het vandag tydens ‘n raadsvergadering van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) sterk kapsie gemaak teen die prioritisering van fondse in die 2021/22-begroting.

Die party het ook beswaar aangeteken teen tariefverhogings van tot 8% wat ver bo die inflasiekoers is en wat getroue belastingbetalers inderdaad sal straf vir die finansiële wanbestuur van dié ANC-beheerde munisipaliteit.

Daar is in die motivering vir die voorgestelde begroting geen melding gemaak van enige stappe wat geneem gaan word om miljoene rande wat deur diefstal en korrupsie verlore gegaan het, te verhaal nie.

Geen melding is ook gemaak van enige nuwe en doeltreffende stappe om miljoene rande se agterstallige dienstegelde en belastings in te vorder nie.

Dit bring mee dat daar van sowat 40% van Matlosana se inwoners verwag word om die hele munisipaliteit te dra en dienste aan wanbetalers te finansier.

Hierdie situasie is totaal onvolhoubaar, veral met die daling in inkomste wat sake-ondernemings en baie huishoudings in die Covid-19-inperkingstyd ervaar.

In stede daarvan om volgens goeie sakebeginsels te belê in prioriteite soos die herstel en onderhoud van infrastruktuur om broodnodige beleggings te lok en sodoende ekstra inkomste vir die munisipaliteit te genereer en weer ‘n fokus op dienslewering te plaas, word die ANC se ideologie van die herverdeling van krimpende bronne vooropgestel.

Die gemeenskappe van Matlosana ly reeds lank onder die gevolge van die ANC se wanbestuur en korrupsie.

Terwyl die infrastruktuur en dienslewering sienderoë voor hierdie gemeenskappe verval, klou die ANC in die raad steeds vas aan sy ideologie, kultuur van selfverryking en kaderontplooiing.

Kiesers moet in die komende verkiesing opstaan en saam met die VF Plus staan om te verseker dat bekwame verteenwoordigers wat die belastingbetalers van Matlosana se belange op die hart dra, beheer neem in die munisipaliteit.

Navrae: 084 872 4300

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.