Die VF Plus het weens ‘n gebrekkige openbare deelnameproses en die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley en Ritchie) se haglike finansiële situasie, teen ‘n beoogde ontwikkeling in en om die Kimberleyse woonbuurt Southridge gestem.
Dié gesubsidieerde laekoste-behuisingsplan in die oop ruimtes by Southridge is deel van die munisipaliteit se finansieel-gekoppelde individuele subsidieprogram (Finance Linked Individual Subsidy Programme) en kan die waarde van ander eiendom in dié gebied in die gedrang bring.
Die ANC-beheerde munisipaliteit beweer dat hy met verskeie gemeenskapslede geskakel het oor die projek, maar inwoners van Southridge is nie bewus daarvan of geraadpleeg nie.
Die ANC het vandag des ondanks besware die ontwikkeling van 109 ongedienste erwe vir die behuisingsprojek in die raad goedgekeur.
Die mense wat vir die program in aanmerking kom, moet tussen R3 500 en R22 000 per maand verdien.
Inwoners van Southridge is bevrees dat die laer gemiddelde pryse van die gesubsidieerde erwe en huise ‘n negatiewe invloed op hul eiendomswaardasies gaan hê.
Sol Plaatje beskik ook nie oor die nodige finansies om sy huidige krag-, water- en rioolinfrastruktuur te vervang of te herstel nie en die moontlikheid is skraal dat hy die behuisingsprojek suksesvol sal kan voltooi en die nodige dienste aan inwoners kan lewer.
Die munisipaliteit het self erken dat hy ‘n tekort aan geld het en nie in staat is om vervalle en verouderde infrastruktuur te vervang of te herstel nie.
Die munisipaliteit verwag nou dat die Noord-Kaapse departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) finansieel moet pa staan vir die ontwikkeling.
Die VF Plus beskou Sol Plaatje se goedkeuring van die behuisingsprojek as ‘n verkiesingsfoefie om stemme te werf vir die komende plaaslike regeringsverkiesing en is bekommerd dat nie-lewering van die beloofde behuising aan die inwoners van Phumonong tot protesoptrede kan aanleiding gee.
Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie die belange van al sy inwoners voorop stel nie en opportunisties omgaan met mense se verwagtinge en behoeftes.
Inwoners het met die verkiesing op 27 Oktober die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap te stuur dat die verval van Kimberley en omgewing nie verder geduld sal word nie.
Navrae: 083 4549 410