Die VF Plus in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) het nie die 2021/22-begroting van die munisipaliteit gesteun nie weens die onrealistiese tariefverhogings wat inwoners onder groter finansiële druk gaan plaas.
Die ANC-beheerde munisipaliteit kan nie die blaam vir dié tariefverhogings net op die Covid-19-pandemie plaas nie. Die munisipaliteit het lank voor die pandemie al finansiële probleme gehad en moet eerder fokus op beter finansiële bestuur en doelgerigte skuldinvordering.
Die skuldinvorderingsyfer het vanjaar ‘n laagtepunt bereik met net 52% van uitstaande skuld wat verhaal kon word.
Krediteure wag meer as 108 dae vir betaling wat ‘n finansiële risiko vir klein ondernemings inhou.
Die munisipaliteit se gereelde kragonderbrekings en verminderde kragtoevoer weens kabeldiefstal by substasies en verouderde infrastruktuur, kan slegs toegeskryf word aan wanbestuur en geen politieke wil om die mense van Merafong te dien nie.
Onwettige kragverbindings neem toe, terwyl getroue belastingbetalers geen voordele uit die begroting ontvang nie.
Weens swak bestuur word paaie nie onderhou en straatligte nie vervang nie. Die tendens plaas inwoners se lewe in gevaar wat daagliks hul weg om slaggate moet vind.
Die tariefverhogings is as volg:
Water – 8%
Elektrisiteit – 15%
Eiendomsbelasting – 4%
Riolering- 4%
Dit is duidelik dat die ANC-beheerde munisipaliteit nie die belange van inwoners voorop stel nie. Inwoners moet met die komende verkiesing saam met die VF Plus opstaan, saamstaan en ‘n sterk boodskap stuur dat die onbevoegdheid nie aanvaarbaar is nie.
Navrae: 082 671 2302