Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, se versoek om op spesiale verlof geplaas te word, is deur president Cyril Ramaphosa goedgekeur, maar dit mag hom nie beskerm om voor die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid te verskyn nie.
Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, sal in Mkhize se plek as gesondheidsminister waarneem.
Die VF Plus het tydens verlede Vrydag se komiteesitting versoek dat die parlement se regsafdeling uitsluitsel moet gee oor of die minister ‘n geldige rede gehad het om nie voor die komitee te verskyn nie aangesien die saak volgens die ANC sub-judice is.
Die VF Plus en ander opposisiepartye het van die ANC verskil omdat die saak tans net ondersoek word deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die polisie.
Die parlement se regsafdeling het vandag in ‘n skrywe aan die voorsitter van die komitee gemeld dat die saak nie sub-judice is nie en dat die komitee ‘n grondwetlike verpligting het om die minister tot verantwoording te roep.
Die VF Plus voel sterk dat die minister steeds voor die portefeuljekomitee vir gesondheid moet verskyn om onbeantwoorde vrae te beantwoord en dat Mkhize se spesiale verlof hom nie ‘n agterdeur mag bied om nie voor die komitee te verskyn nie.
Volgens die VF Plus is daar tans baie verwarring oor verskeie aangeleenthede en dat slegs die minister duidelikheid daaroor kan verskaf.
Die minister se uitsprake vandag dat hy volle verantwoordelikheid neem en sy onvoorwaardelike verskoning bied vir die ontwrigting wat die saak in die stryd teen Covid-19 veroorsaak het, asook sy uitspraak dat hy nooit ‘n kontrak onderteken het nie maar slegs ‘n memo, is van die verwarring wat nou begin voorkom.
Alhoewel Mkhize nie aangebied het om te bedank nie, is dit duidelik dat daar meer agter die huidige situasie is as wat voorgegee word. Dit moet opgeklaar word.