(Debat in parlement: 2021-Begrotingswetsontwerp)
Die skuld van die verlede het vir die ANC-regering ’n mantra geraak wat by herhaling gebruik word om sy eie mislukkings, korrupsie, ekonomiese agteruitgang en die groeiende werkloosheid en verarming van die land se mense goed te praat.
Alles wat tot die agteruitgang aanleiding gee, word jaar na jaar herhaal. Mislukte beleid, wanbestuur en dit wat bygedra het om die land tot aan die afgrond te bring.
Die kommerwekkendste is egter dat die ANC-regering ’n begroting verwelkom wat hierdie verval manifesteer. Dit word verwelkom dat die begroting teruggesny word daar waar dit werklik die nodigste is welwetend dat dit wat wel begroot word, ook wanaangewend gaan word.
Dit is ‘n skande dat dit verwelkom word. Net soos dit ‘n skande is dat die regerende party die uitvoerende gesag nie tot verantwoording roep nie en daar nie sprake is van oorsig nie.
Selfs al word faktore soos korrupsie en wanbestuur buite rekening gelaat, staan verkeerde prioriteite in die begroting steeds soos ‘n seer duim uit.
Die minister van finansies sê by herhaling dat uitgawes besnoei gaan word. Tog word kontrakteurs teen reuse bedrae aangestel om dienste te lewer terwyl daar reeds amptenare in die staatsdiens teen groot salarisse aangestel is om die werk te doen.
Waarom ‘n maatskappy R150 miljoen betaal om media-skakelwerk te doen en ‘n onderhoud op TV te reël wanneer daar reeds mense in diens is om dit te doen? Dit is verkeerd en beginselloos, ongeag of dit R10 of miljoene rande kos.
Kubaanse ingenieurs, dokters en werktuigkundiges word teen miljoene die land ingebring om werk te doen terwyl daar in Suid-Afrika kundige mense is om dit te doen, baie van hulle boonop werkloos. Die begroting sal daartoe bydra dat dit aanhou gebeur.
Al hierdie dinge gebeur terwyl die regering aan die begroting sny waar dit die gewone man op straat die seerste gaan maak, mense soos onderwysers en verpleegsters.
Daar is talle gekwalifiseerde maatskaplike werkers wat in die grootste maatskaplike krisis denkbaar in die land sonder ‘n werk of inkomste sit omdat die staat sy begroting aan hulle sny om te kan mors op luukshede en die beskerming van gewaande belangrike persone.
Dit is verkeerd en onaanvaarbaar. Dit is verkeerd dat volgehou word met afbrekende beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) wat net ‘n handjievol bevoordeel terwyl dit die saad van rassehaat wyd saai.
Die tyd het aangebreek dat die regering erken hy het misluk en volle verantwoordelikheid daarvoor neem. Dit is veral tyd om op te hou om die verlede ná 27 jaar steeds die sondebok te maak vir mense se gierigheid en ‘n onbevoegde regering.